[caption id="attachment_148211" align="alignnone" width="600"]Malcolm McGown Malcolm McGown se seun, Steven, is reeds vyf jaar gelede in Mali deur Al-Kaïda ontvoer.[/caption]

Dit is al vyf jaar sedert dié Johannesburger in Mali deur Al-Kaïda ontvoer en as gyselaar aangehou word.

Vir vyf jaar sit Malcolm elke jaar ’n geskenk toegedraai in geskenkpapier onder die Kersboom vir sy seun. Vir vyf jaar het Malcolm elke jaar dieselfde wens.

“Ons weet nie wanneer Stephen vrygelaat gaan word nie. Ons hoop dit is voor Kersfees,” sê Malcolm. Stephen het met sy motorfiets deur Afrika gery. Hy het ’n droom gehad om van Londen tot in Johannesburg te ry.

In Timboektoe in Mali is Stephen saam met nog twee motorfietsryers ontvoer. Stephen, Johan Gustafsson van Swede en Sjaak Rijke van Nederland het saam in dieselfde tentekamp gewoon toe hulle ontvoer is. Sjaak is sowat twee jaar gelede deur die Franse taakmag gered. Hy is apart van Stephen en Johan aangehou. Daar is ’n losprys van €5 miljoen (sowat R73 miljoen) op Johan se kop, terwyl €4 miljoen (sowat R58 miljoen) vir Stephen se vrylating geëis word.

As daar een ding is waarvan Malcolm seker is, is dit dat sy kind nog lewe en vir hom gesorg word. Al bewyse wat hulle deur die jare van onderhandelaars gekry het, is die onderhandelaars se woord. Al-Kaïda het wel verlede jaar ’n video uitgereik waarin Stephen praat.

“Dit gaan moeilik,” sê Malcolm. “As jy in die oggend wakker word, is Stephen die eerste mens aan wie jy dink. As jy in die aand gaan slaap, is hy die laaste een aan wie jy dink.

“Jy dink heeldag hoe jy hom gaan terugkry. Hy is my kind. Ons sal nooit, nooit moed opgee nie.”

Steve se ma, Bev (68), het chroniese obstruktiewe pulmonêre siekte, wat beteken sy moet 24 uur per dag suurstof kry. Sy slaap meeste van die tyd.

Die wete dat sy nie weet hoe dit met haar kind gaan nie, maak nie die siekte makliker nie. “Dit is baie taai. Stephen word in Januarie 42. Dan sal dit al die sesde jaar wees dat hy aangehou word.

“Ek wens so ek kon soontoe gaan en met hom plekke ruil. Maar daar is vir my gesê as ek dit doen, sal Al-Kaïda my saam met hom aanhou.

“Al wat ons kan doen, is om te glo.”