Hoe gemaak as jy - in jou laat 20’s en reeds gekneus ná ’n liefdesteleurstelling - voel jy gaan skree as jy nog ’n selfvoldane verlowing- of troukiekie op Facebook moet aanskou?

Jy trou met jouself en sorg dat almal wat regtig saak maak die groot dag saam met jou vier. En Kate Simpson van Ontario se ongewone selfterapie ná ’n moeilike verhouding wat ’n paar lelike letsels kon gelaat het, was blykbaar ’n groot sukses. Die 28-jarige donkerkop het pas aan Kanadese en Britse media vertel hoe sy vroeër vanjaar stil-stil met haarself afgehaak het in ’n vrolike seremonie voor omtrent 100 vriende en familielede. En daar was boonop ’n heerlike nadraai: haar ‘strooijonker’, Dave Eby, ook 28, is nou haar ou.

Kate het ná die verbrokkeling van ’n lang verhouding einde verlede jaar besluit so ’n stap is dalk net die regte terapie: “Dit was ’n vreeslike moeilike skeiding en ek was bitter,” het sy vertel. “Rondom Kersfees het ek deur Facebook gekyk en ek sweer almal was besig om verloof te raak.

“Dalk moet ek ’n drinkspeletjie begin . . . ’n sluk wyn elke keer as ek die soveelste simpel, stroperige verlowingsfoto sien, het ek nog wrewelrig gedink.”

Gelukkig het sy eerder oor ’n oplossing vir haar pyn gaan besin en besluit haar gevoelens het grotendeels te make met ’n behoefte aan ’n bietjie selfdeernis. “Ek was hartseer en het liefde gekort, maar van myself.”

Ná ’n hele paar afsprake met haarself in die loop van omtrent twee maande - van restaurant-afsprake waar sy net nagereg bestel het tot pedikure, skemerkelkies en ’n voetslaantog deur die sneeu - het sy een aand voor ’n klompie vriende op haar knieë haarself die jawoord gevra. Haar pelle was mal oor die idee en het dadelik planne vir haar spesiale dag begin beraam.

Maar sy moes nog ouers vra: “Ek het hulle gebel en gesê: Pa, Ma, ek gaan trou.”

Hulle was eweneens in die wolke. Pa Mike het daarop aangedring om die nodige tjeks uit te skryf en haar ma, Glenda, se reaksie was: “Haai, my kind, as ek op jou ouderdom van dié soort ding geweet het, sou jy waarskynlik nie nou hier gewees het nie!”

Hoe ook al, sommige trougaste het selfs duisende kilometers ver gereis om by te wees toe Kate trou en liefde aan haarself sweer, asemrowend in ’n smaraggroen rok, en kompleet met strooi- en blommemeisies en strooijonker. Die kos, versierings en fotografie is deur skenkings gedek en Mike, wat natuurlik ook die bruid afgegee het, het vir die res betaal.

Ná die seremonie, wat ’n goeie vriendin, Bri Dubowski, behartig het, “het ons heelnag lank gedans”.

Die ring was ’n groot storie, want sy het nog nooit juis geld op juwele bestee nie. Sy’t eindelik op ’n swart trouring besluit, wat nou aan haar linkerhand se middelvinger pryk.

Dave het intussen ’n wittebrood na Belize in Suid-Amerika gereël.

“Dit was wonderlik hoeveel mense haar in alles gesteun het,” sê hy. “Die ding het in iets baie groter ontwikkel as wat ons verwag het.

“En nee, dit pla my nie dat ek met ’n getroude vrou uitgaan nie.”

Bronne: huffingtonpost.co.uk, sharetu.com, metro.co.uk