Die branders by Kampsbaai aan die Kaapse kus breek lui-lui hier onder ons terwyl ons ’n verfrissende vrugte-en-groente-drankie op die reuse stoep langs die swembad geniet.

Percy Montgomery se gewese vrou lag. “Ja, ek was sewe jaar lank ’n rugbyster se vrou. En elke Vrydag- en Saterdagaand was dit net rugby, rugby en nog rugby. Jy leef jou in in jou man se loopbaan, maar nou is dit my beurt om die goed te doen wat mý opgewonde maak!’’

Tasmin Tobitt se gesig straal terwyl sy vertel van haar passies in die lewe. Boaan die lys is haar kinders, Nick (14) – haar seun uit haar eerste huwelik en ’n uitblinker in waterpolo en boks – enTaneal (5), haar en Percy se ballerinatjie.

Haar tweede passie is liggaamsbou, vertel sy, en deesdae is Tasmin ’n ster uit eie reg. Sy het vanjaar 40 geword en is die tweede agtereenvolgende jaar as Mej. Fiksheid Suid-Afrika gekroon. Verlede jaar het sy Suid-Afrika in Las Vegas in Amerika verteenwoordig en die derde plek in haar afdeling behaal.

Maar tussen dié prestasies deur moes sy groot hartseer hanteer.

“Ek het binne enkele maande my man én my geliefde ma, Maureen, verloor. Maar wat ’n mens nie onderkry nie, maak jou sterk,’’ sê sy dapper.

Oor daardie aaklige voorval tussen haar en Percy verlede Oktober sê Tasmin net: “Dit was ongelukkig.’’

Sy het hom van aanranding gaan aankla, maar die klag die volgende dag weer teruggetrek. Nogtans was dit oral in die media.

“Dis vreeslik, alles so in die openbare oog. Ons was 11 jaar saam en lief vir mekaar.

“Ons wou dit red, maar dinge het nie uitgewerk nie.’’

Lees meer oor Tasmin se planne vir die toekoms in Huisgenoot, 30 Desember 2010.