Op sewe maande moes Logan Dyssel (amper 3) ’n reuse-hartoperasie ondergaan om sy lewe te red, maar hy het sy gehoor verloor.

“Ons sou so graag wou hê hy moet ons stemme kan hoor en kan gesels,” vertel Pippa Solomon, Logan se ouma, uit Secunda, Mpumalanga.

Logan se ma, Sammy Dyssel, is 26 jaar oud en sy pa, Jaco, is 30. “Sammy kan nie werk nie, want Logan, wat in Oktober drie jaar oud word, het 24 uur sorg nodig,” vertel Pippa. Jaco is ’n dieselwerktuigkundige by ’n myn op Steelpoort.

“Sy twee boeties is baie erg en beskermend teenoor hom,” sê Pippa. Ouboet Zayden is vyf en George is tien maande oud. “Hulle weet daar is iets fout,” voeg Pippa by. Dit wil voorkom asof Logan tydens die operasies breinskade opgedoen het.

Hy sukkel steeds om te loop en beweeg in ’n loopraam rond. Hy sit ook nie gewig aan nie, weeg 9,5 kg en dra die klere van ’n 18 maande oue baba.

Pippa is vuur en vlam om geld in te samel vir sy kogliêre inplanting sodat hy ten minste kan hoor.

Logan is op 21 Oktober 2013 in Polokwane deur ’n noodkeisersneë gebore omdat sy naelstring om sy nek was en hy nie suurstof kon kry nie. ’n Week ná sy geboorte het hulle vasgestel daar is ’n gaatjie in sy hartklep en hy is aan ’n ventilator gekoppel tot hy sterker was om op sewe maande ’n hartoperasie te kon ondergaan.

[caption id="attachment_133099" align="alignnone" width="600"]Logan kort na sy operasie. Foto: Verskaf Logan kort na sy operasie. Foto: Verskaf[/caption]

Buiten die tekort aan suurstof tydens geboorte het hy ook ’n sist op die brein ontwikkel. Hulle het onlangs uitgevind hy is heeltemal doof. Die oorsaak is nog nie duidelik nie.

Logan het geleer om lippe te lees en beduie met sy handjies as hy iets wil hê.

“As hy kan hoor, sal hy heel moontlik kan loop; kan praat en ’n normale lewe lei,” sê sy pa in ’n video wat vir die geldinsameling gemaak is.

Die mediese fonds dek die meeste van hul koste, maar nie vir die kogliêre inplanting nie en dit kan tot R272 510 per oor beloop.

Pippa het namens Logan ’n briefie aan sy ouers geskryf:

“Aan my Mamma en Pappa. My handjies is klein, moet asseblief nie van my verwag om so sterk soos Pappa en Mamma te wees nie. My vingertjies is nog ’n bietjie dom en dalk sal ek iets laat val, maar ek probeer. My oortjies het nog nie gehoor nie, maar my hart verstaan wat julle vra . . . Here, ek vra U vandag dat U Pappa en Mamma sal help. My lewe is nog teer en ongevorm . . . Vorm my tog met baie soentjies en drukkies . . . Al hoor ek nie, al praat ek nie en al loop ek nie . . . Jesus kon my nie ’n beter Pappa of Mamma gegee het nie,

Jul seuntjie,

LOGAN”

Gaan kuier by Logan op sy Facebook-blad wat sy ouma bestuur.