Geld vir blink goed soos Kersbome en mooi toegedraaide feestyd-presentjies was daar nooit in hul armoedige huisie op Kalbaskraal naby Malmesbury waar Adriaan Andrew woon nie. En later, toe dit nodig word, ook nie vir kunsbene en ordentlike rolstoele nie . . .

Die lewe het die 12-jarige seuntjie en sy mense nog nooit met ’n oop hand behandel nie. En drie jaar gelede toe ’n trein albei sy bene vermorsel het, het klein Adriaan se wêreldjie eensklaps verder verskraal.

Maar nou het alles weer soos handomkeer verander: Die seuntjie wie se mense nog altyd moes raap en skraap vir net die allernoodsaaklikste, het skielik R16 miljoen ryker geword. In ’n skikkingsooreenkoms met Transnet moet die vervoerreus nou dié reuse bedrag aan hom betaal nadat Adriaan se ma, Lea Snyders, namens hom skadevergoeding geëis het vir onder meer prosteses, rolstoele en lewenslange mediese behandeling.

En vir dié brandarm gesin van ses met hul eenvertrekhuisie gaan ongekende horisonne skielik oop: ’n splinternuwe huis spesiaal aangepas vir Adriaan, kunsbene, ’n ordentlike rolstoel in die plek van die baie eenvoudige stoel van die staatshospitaal, en onderwys by ’n spesiale skool vir gestremdes in Kaapstad.

Dié uitbetaling, die grootste nog in Suid-Afrika vir ’n spoorlynverwante besering, sal die lewe oneindig makliker maak vir die seuntjie wat eens so graag rugby gespeel en op die atletiekbaan uitgeblink het.

Die afgelope jare was moeilik vir Adriaan. Wanneer hy ander kinders sien bal skop het, het hy baie emosioneel geraak.

En selfs met die beste kunsbene wat geld kan koop, sal Adriaan steeds nooit weer rugby speel of die 100 m hardloop nie. Sy beserings was van so ’n aard dat hy nie eens ver sal kan loop of lank staan nie, laat staan nog hardloop, het kenners bevind. Adriaan se geld, wat deur trustees beheer sal word, moet nog oorbetaal word, en dis nie seker of Kersvader al dié jaar ’n draai in die beskeie huisie in Kransvoëlstraat sal maak nie.

Lees meer oor Adriaan en die siviele eis in Huisgenoot van 24 Desember.