zuma1 “Die keuse tussen Jacob Zuma en Suid-Afrika is eenvoudig en belangrik,” het die DA in ’n verklaring gesê toe hulle bekendmaak hulle gaan dié mosie voorlê.

“Pres. Zuma se korrupsie, ekonomiese wanbestuur en leuens kan nie aanhou bestaan saam met die strewe om ’n beter Suid-Afrika vir almal te bou nie.” Die ANC-hoofsweep, Jackson Mthembu, het ook ’n verklaring uitgereik en gesê Zuma is nog aan niks skuldig bevind nie en die mosie loop dinge vooruit. Hy het die DA daarvan beskuldig dat hulle die wa voor die perde wil span. Buite die parlement het Zuma-ondersteuners saamgedrom terwyl binne kapsie gemaak is teen Zuma se voortgesette presidentskap.

“Die keuse wat ons vandag maak, bepaal elke Suid-Afrikaner se toekoms,” was die DA-leier, Mmusi Maimane, se pleidooi. Die EFF se Floyd Shivambu het gevra dat lede van die Nasionale Vergadering (NV) met geheime stemme stem of hulle Zuma van sy amp wil onthef of nie.

“Daar is Gupta-ministers hier,” het hy opgemerk.

Hoe werk ’n mosie van wantroue?

Hoewel ons Grondwet uitdruklik daarvoor voorsiening maak dat ’n president van dié amp onthef mag word, is dit nie ’n maklike taak nie.

Daar is twee bepalings in die Grondwet wat dit moontlik maak.

Die eerste, artikel 89, bepaal dat die president van sy amp onthef mag word, mits twee derdes van die lede van die Nasionale Vergadering (NV) ten gunste van dié besluit stem. In hierdie geval mag die president slegs onthef word as hy skuldig is aan ’n ernstige skending van die Grondwet of die reg, ernstige wangedrag of ’n onvermoë om die funksies van die amp te verrig.

Dit beteken dat een van hierdie drie voorwaardes aanwesig moet wees en 66,6 persent van die NV ten gunste daarvan moet wees.

Die tweede bepaling wat dit toelaat, is artikel 102(2) van die Grondwet, waarmee ’n mosie van wantroue in die president aanvaar word. Dit is wat vandag in die parlement probeer is.

In hierdie geval moet die meerderheid van die NV ten gunste daarvan stem dat die president van sy amp onthef word; dus 50 persent plus een stem. Die NV bestaan uit 400 lede en word saamgestel proporsioneel tot hoeveel stemme elke politieke party tydens ’n verkiesing kry. Die ANC sal dus heelwat meer lede hê as opposisiepartye. Indien 66,6 persent of 50 persent plus een stemme nodig is om die president te verwyder, moet onderskeidelik 267 en 201 lede ten gunste van die besluit wees. Die ANC het 249 lede in die NV en dit is daarom maklik om te sien waarom opposisiepartye gaan spook om die nodige getal stemme te kry om Zuma te verwyder. Die 249 ANC-lede in die NV sal nie sommer teen Zuma stem nie omdat hy ’n lid is van die ANC, en die opposisiepartye alleen se stemme is nie naastenby genoeg om hom van sy amp te onthef nie.

Wat Twitter daaroor te sê het