[caption id="attachment_148623" align="alignnone" width="526"]xx Ná sy eksvrou se miskraam het die sanger Quentin Prinsloo besluit hy wil nie kinders hê nie. Foto: Facebook[/caption]

“Dit het my lank gevat om die miskraam te verwerk,” sê hy.

Hulle het in Februarie 2014 uitgevind sy is swanger. Quentin was baie opgewonde die dag toe hy hoor hulle verwag. “My vrou was opgewonde en gelukkig. Dit was vir my die mooiste gesig.” Skaars twee maande later het sy die baba verloor.

En ná die miskraam het hy begin drink. Hy was kwaad. Baie kwaad. Vir homself en die Here. “Ek was stukkend en my vrou het kwaai trauma deurgemaak. ’n Jaar later, aan die begin van 2015, het Quentin uit die huis getrek. “Ons het uitmekaar gedryf en ek was net nie meer gelukkig nie.”

Ná al die onbeskryflike hartseer het hy hom na die verkeerde goed gewend. “Ek het gedrink omdat ek gedink het dit sou my beter laat voel.” Maar dit het hom dieper en dieper in ’n put afgetrek.

Eindelik het Quentin besef – sy vrou wou graag ’n gesin hê en hy was dol op sy loopbaan en die publiek. “Ek het gevoel ek was nie reg nie en het besluit om eerder te skei as om later erger seer te kry. Ek het gedink sy verdien beter en het my huwelik prysgegee vir my loopbaan, want ek glo dit is my roeping.”

Ná die egskeiding het hy twee keer probeer om sy eie lewe te neem deur ’n oordosis slaappille te drink. Maar ná die tweede mislukte poging het hy besluit om sy lewe reg te ruk. Nadat sy maag uitgepomp is, het ’n dokter in die hospitaal vir hom ’n Bybel gegee.

Hy het die Bybel oopgeslaan en ’n gedeelte oor arende en watervalle gelees. Toe hy die volgende dag die Roodepoortse botaniese tuin besoek, het hy arende en watervalle gesien. “Daardie dag het ek vrede gemaak,” sê hy.

Hy was ook twee weke lank in ’n psigiatriese hospitaal waar hy besef het sy fokus moet op sy loopbaan wees. “Ek het besef dit is belangriker om myself gelukkig te maak, eerder as die publiek.”

Quentin het weer begin skryf en optree; dit is immers sy groot passie. En deesdae is hy in sy element.

Hy sal altyd wonder hoe Chloe sou gewees het. Maar hy wil nie nou kinders hê nie. Iets het vir hom gesê hy moet sing. En deesdae is sy liedjies sy “kinders”. Die liedjie Lig is My Liefde het hy juis geskryf nadat hy weer “die lig gesien het”.

Noudat sy sangloopbaan goed op dreef is, het hy vrede gevind. Die omstandighede verstaan hy ook nou beter.

Yvonne Venter, Quentin se skakelbeampte, sê hy het steeds ’n babakas. “Ek het al vir hom gesê om ontslae te raak daarvan, maar hy weier.”

Deesdae droom hy nie meer nie, sê Quentin. “Ek leef nou my droom. Ek wou wysheid en insig hê en ek het dit nou.”