Operasiehoofde in Darmstadt, Duitsland, het Woensdag gesê die lander Philae kon tydens landing nie op die komeet 67P/Churyumov-Gerasimenko anker nie, maar kon steeds wetenskaplike inligting terugstuur.

Die verkenner van 100 kg kon dalk in ’n sagte, sandagtige stof geland het of dalk die oppervlak liggies aanraak, het hulle bespiegel.

Daar sal Donderdag meer inligting beskikbaar word wanneer Philae in aanraking kom met sy moederskip, Rosetta, sê die landingsbestuurder, Stephan Ulamec.

“Hopelik sit ons daar op die oppervlak in ’n posisie wat verskil van die oorspronklike landing en kan met ons ondersoek voortgaan,” het Stephan gesê.

Die Europese ruimteagentskap (ESA) is oorstelp oor die sending en Nasa – die suksesvolste ruimteagentskap ter wêreld en ’n kenner van moeilike landings – het selfs dié projek geprys.

Philae is toegerus met 10 instrumente en is ontwerp om die eerste wetenskaplike eksperimente op ’n komeet uit te voer. Dis die kroonjuweel van ’n uiters ingewikkelde projek wat al meer as 20 jaar bestaan.

Om van die aarde te reis na ’n komeet wat teen 18 km/s na die son reis was ’n mylpaal in ruimte-ingenieurswese en hemelwiskunde.

Die Rosetta-projek, wat tot dusver sowat R16 biljoen kos, is in 1993 goedgekeur.

Rosette, met Philae aan boord, is in 2004 die ruimte ingestuur. In Augustus vanjaar het dit ná meer as ’n dekade sy bestemming bereik. Dit het die aarde en Mars se aantrekkingskrag gebruik om spoed op te bou.

Die twee het 6,5 biljoen km afgelê voor hulle Woensdag voor die landing  geskei het.

Bygelowiges beskou komete as goeie of slegte voortekens;  astrofisici beskou dit as tydkapsules van die ontluikende sonnestelsel.

Dit bestaan uit oeroue ys en stof, die puin van die materiaal wat 4,6 biljoen jaar gelede die planete help skep het.

Volgens een hipotese kon hulle die aarde lewe gegee het; hulle het dit bestook met ys, wat die oseane geskep het en koolstofmolekules, wat die boustene van organismes verskaf het.

Philae is ontwerp om teen 3,5 km/h te land en dan twee harpoene in die oppervlak te skiet – ingenieurs het gehoop dit sou genoeg houvas bied terwyl die robot met 11 wetenskaplike instrumente eksperimente uitvoer.

Maar daar was aanduidings dat die landingsharpoene nie ontplooi het nie, het grondbeheer gesê.

Beoogde toetse sluit in om deur die komeet se oppervlak te boor en die monsters vir chemiese aanduidings te ontleed.

In Toulouse, Frankryk, het die astrofisikus Philippe Gaudon, wat by die Franse ruimteagentskap CNES aan die hoof van die Rosetta-sending staan, gesê Philae sou sukkel om te boor as dit nie geanker is nie.

“Maar Philae het nog nie omgeval nie en blyk stabiel te wees,” het Philippe gesê.

“En sekere instrumente werk nog, hoofsaaklik om onder meer temperatuur, vibrasie en magnetisme te meet.”

Philae kan sowat 60 uur met batterykrag werk, maar etlike maande met sonkrag.

Die eenheid weeg 100 kg en vul Rosetta se 11 instrumente aan. Rosetta is ’n ruimtetuig van 3 t wat vier vyfdes van die verwagte wetenskaplike program in sy wentelbaan sal voltooi.

Ongeag wat met Philae gebeur, sal Rosetta steeds die komeet vergesel soos dit om die son beweeg.

Op 13 Augustus volgende jaar sal die komeet binne 186 miljoen km van dié ster beweeg.

Die sending sal na verwagting in Desember volgende jaar eindig wanneer die komeet die binneste deel van die sonnestelsel verlaat.

Rosetta sal 4 000 dae ná die lansering weer die aarde se wentelbaan binnekom.