Jou seuntjie is maar nog klein. By die kleuterskool word hy deur sommige van die kinders geboelie, so erg dat van hulle hom op die grond vasdruk en op sy rug spring.

En dit net omdat hy outisties is.

So ’n situasie sal enige ma se hart breek. Maar Karen van Zyl, van Port Elizabeth, het ’n plan beraam, want sy kon nie toelaat dat Caleb verder afgeknou word nie.

Karen het Caleb gevat vir karate. Met die eerste drie lesse het Caleb net daar gesit. Toe, met die vierde les, vra sy ma hom of hy nie wil probeer nie. Hy het ja gesê.

Vandag, agt jaar later, is Caleb (15) die eerste outistiese seun ter wêreld wat sy eerste dan swart belt in karate kry.

Michael Kliment, adjunk-voorsitter wêreldkarate, het die wêreldregister vir karate nagegaan en bevind Caleb is die eerste outistiese seun wat ’n swart belt kry.

Karen sê Caleb was van geboorte af stadiger as sy maatjies. “Hy kon nie sit nie. Hy het eers op twee jaar begin loop. Ons het alles met hom probeer,” vertel Karen.

“Toe hy die eerste keer skool toe gaan, het die juffrou eendag vir my gevra of ek besef my kind is outisties.”

Eers toe het Karen besef wat aangaan. Caleb het lae spiertonus, hy wieg sy kop heeltyd en hy het vreeslik vaste gewoontes.

“Caleb sou nooit eens daaraan gedink het om teen die ander kinders op te staan nie. Hy sou hulle net toegelaat het om hul gang te gaan en hom af te knou,” sê Karen.

Die karateklub was langs die gim waar Karen geoefen het. Sy het eendag net daar ingestap en gevra of hulle sou kans sien vir ’n outistiese kind.

Nicole Botha, Caleb se sensei, het gesê hulle moet kyk hoe hy reageer.

“Met die eerste karateklas het Caleb net met sy hande oor sy ore gesit; die geraas was vir hom te veel. Hy het ook nie gekyk wat die ander doen nie, maar heeltyd afgekyk.

“Ná die derde klas, het hy gesê hy sal dit probeer.”

Nicole sê aan die begin was dit nogal taai, veral omdat hy niks gesê het nie. Hy het eers ná sowat drie maande vir die eerste keer met haar begin praat.

Aan die begin Nicole alleen met hom gewerk, maar sy het hom later na die groter klas geskuif en dit is waar hy geblom het.

“Caleb hou nie daarvan om anders as die res behandel te word nie. As die ander vyf rondtes moet hardloop, hardloop Caleb ook vyf, al kos dit hom langer.”

Toe hy met karate begin, kon Caleb nie opstote doen nie. Hy het op sy knieë gestaan en sy elmboë gebuig. Vandag doen hy ’n behoorlike opstoot. Sy balans het ook baie verbeter.

“Hy is nie bang vir enigiets nie. Hy doen sy bes wanneer daar gevegte is,” sê Nicole.

Toe Caleb eers die karate onder die knie kry, het die afknouery op skool ook opgehou.

Vandag is hy baie gewild in sy skool vir kinders met spesiale behoeftes.

Karen sê buiten Caleb se selfvertroue, het sy spiertonus en konsentrasie ook baie verbeter. Hy is ook baie sterk.

“Sy kop wieg steeds heeltyd, maar hulle sê dit is wanneer sy gedagtes begin dwaal dat dit gebeur.

“Karate het ongelooflik baie vir my kind beteken. Ek is nie ’n dokter om te kan sê karate is wonderlik vir kinders met spesiale behoeftes nie, maar vir my kind is dit.

“Deesdae het hy soveel selfvertroue. Hy sal na die ander kinders se pa toe gaan, hul hand skud en met hulle gesels.

“Ek het nooit gedink hy sal so verlief raak op karate nie. Hy loop geen enkele klas mis nie.”