’n Egpaar wat onlangs hul 60ste huweliksherdenking gevier het, het verklap hulle herdenk elke jaar hul troudag deur ’n stuk te eet van die vrugtekoek wat op hul groot dag in 1955 die troukoek was.

Ann en Ken Fredericks van Florida in Amerika het ook vertel hulle hou die koek in ’n Maxwell House-koekblik en bêre dit in ’n kas. “Donker vrugtekoek hou,” verduidelik Ann. “Dis ’n bietjie droog, maar smaak nie sleg nie.”

Om die smaak te verbeter maak hulle die koek met brandewyn klam voor hulle daarvan eet. “Glo my; dis nogal lekker, mits dit genoeg brandewyn op het. En dit het ons nog nooit siek gemaak nie,” het sy aan Florida Today gesê.

Die twee is verbaas oor al die media-aandag wat hulle oor die koek kry. In party kulture word die bewaring van ’n stuk troukoek as ’n tradisie vir goeie geluk beskou.

Gewoonlik word die koek egter in die yskas gehou en op die egpaar se eerste huweliksherdenking geëet. “Ons het nooit gedink ons is ongewoon nie,” het Ann aan ABC gesê.

Ann se ouma het die vrugtekoek gemaak. Sy het drie lae koek sowat twee maande voor die troue gebak. Die Frederickse het die boonste laag gehou.

’n Woordvoerder van Ask Karen, ’n kletsdiens oor kosveiligheid wat deur die Amerikaanse departement van gesondheid- en mensedienste geborg word, het hul kommer uitgespreek oor die veiligheid van die koek. “Ons sal geen kos aanbeveel wat so oud is nie.”

Bronne: abcnews.go.com, huffingtonpost.com