Dit was die week waarin die wêreld asem opgehou het – sou dit die laaste wees van die man wat een van die heel grootste ikone van sy era geword het? Die geliefde Nelson Mandela, vader van ’n vry Suid-Afrika?

Op 92 is hy immers lankal nie meer die fier man wat hy eens was nie. En eendag, hartseer soos dit is, sal hy moet gaan . . .

Maar genadiglik was dit toe nie daardie week waarin die wêreld angstig gewag het op nuus uit die Milpark-hospitaal in Johannesburg nadatNelson Rolihlahla Mandela daar opgeneem is en twee spanningsvolle nagte daar gebly het nie.

En eindelik het die rede toe tog aan die lig gekom – ’n akute lugweginfeksie.

MADIBA SE GESONDHEID 

Dié groot skrik was nie die eerste keer dat ons geliefde Madiba se longe hom pootjie nie: Vroeë-stadium-tuberkulose is al in 1988 by oudpres. Mandela gediagnoseer toe hy nog in die gevangenis was.

Hy was toe al 70 jaar oud en het kwaai begin hoes en gekla van klammigheid in sy sel. Hy is in ’n hospitaal op Stellenbosch opgeneem en later by die Tygerberg-hospitaal verder behandel.

Twee liter vloeistof is uit sy longe gedreineer en hy moes ses weke in die hospitaal deurbring om te herstel. Gelukkig was die siekte nog in ’n vroeë stadium, en Madiba het later gesê dit het vier maande gekos voor hy weer behoorlik aangesterk het, maar dat hy heeltemal genees is.

Maar dié voorval het die waarskuwingsligte laat flikker rondom ’n man met wie se gesondheid die destydse regering toe al maar te goed besef het hulle nie kanse kon waag nie, en hierna is hy na ’n huis op die terrein van die Victor Verster-gevangenis buite die Paarl verskuif.

‘‘Dit was inderdaad nie tering wat Madiba gehad het nie, maar pleuritis of borsvliesontsteking. Dis wel soortgelyk aan tering, maar nie heeltemal dieselfde nie,’’ sê prof. Chris Bolliger, ’n pulmonêre spesialis verbonde aan die Universiteit Stellenbosch en lid van die span dokters wat Madiba destyds behandel het.

Tuberkulose of tering is ’n aansteeklike siekte wat deur ’n bakterie veroorsaak word en die longe of ander dele van die liggaam aantas. Pleuritis veroorsaak dat die longvliese swel, en dit kan deur longontsteking of tuberkulose veroorsaak word. ’n Mens kan so goed van pleuritis herstel dat geen skade oorbly wat die longe in die toekoms kan verswak nie, sê Chris.

Hy is oortuig daarvan dat Madiba nie nou longontsteking gehad het nie. Was dit longontsteking, sou die oudstaatshoof nooit so vinnig uit die hospitaal ontslaan gewees het nie.

‘‘Dit duur gemiddeld heelwat langer as twee nagte in die hospitaal voor ’n ouer mens van so iets herstel,’’ sê hy.

Lees die volledige artikel in Huisgenoot, 10 Februarie 2011.