“Die feit dat Eintlik Nogal Baie voete kry buite Suid-Afrika, is opsigself vir my ’n baie goeie ding,” sê André, wat onder 7de Laan-kykers bekend is vir sy rol as Rickus Welman.

“Die tema en emosionele ontwikkeling van die karakters en storie is universeel en talle mense wêreldwyd sal daarbly aanklank vind,” vertel hy aan Huisgenoot.

[caption id="attachment_164784" align="alignnone" width="600"]Foto: Facebook/EintlikNogalBaie Foto: Facebook/EintlikNogalBaie[/caption]

Die fliek is vol emosie en passie, en dit pas perfek by die vurige en passievolle Spanjaarde, meen hy.

Zak lewer sy kommentaar in ’n lang Spaanse sin, wat hy vertaal as "Ek dink dit is baie opwindend dat ons Afrikaanse film-bedryf op ’n globale skaal gesien kan word." Dié akteur is onder andere bekend as die booswig Gavin Greeff in die fliek Ballade vir ’n Enkeling.

Eintlik Nogal Baie se draaiboek is geskryf deur Jarrod de Jong en Pieter Oosthuizen en M4gic-J Entertainment het verlede jaar dié opwindende Afrikaanse fliek na die silwerdoek gebring.

“Ek is besig om te prep vir ’n nuwe film genaamd 8. En ek was op soek na internasionale verspreiding vir die film en het toe in kontak gekom met Leomark Studios in LA,” vertel Jarrod.

“Hulle het na van my vorige werk gekyk en was baie geïntereseerd in Eintlik Nogal Baie. Ek was verbaas en het nie gedink hulle wou dit in Spaans vertaal vir ’n baie groot mark nie.

“Dit was twee maande se onderhandelinge omdat dit ’n baie groter verspreiding behels as net hier in Suid Afrika. Uiteraard is ons baie opgewonde, want dit maak ’n nuwe deur oop vir Afrikaanse films. Dit kan nou ’n wyer mark wêreldwyd bereik."

“Met ’n intieme rolverdeling van gesoute akteurs en ’n storie wat gelaai is met ’n goeie balans van romanse, komedie, aksie, spanning en tragedie, bring Eintlik Nogal Baie ’n dwingende sjarme,” meen Jarrod.

Die storie handel oor Jay van Niekerk (André Lötter), ’n aantreklike maar teruggetrokke strokiesboek-animeerder wat sy lewe baie deeglik onder beheer het.

Hy kom egter voor ’n kruispad te staan en wanneer hy vir Ally (Marisa Drummond) ontmoet met haar oorbeskermde pa en haar ekskêrel (Zak Hendrikz), word sy lewe vir altyd verander op die mees dramatiese wyse.

Stage and Screen sê: “Die vervaardigers het nie net daarin geslaag om ’n skerp, goed deurdagte draaiboek te verfilm nie, hulle het daarin uitgeblink. Twee elemente wat die sterk draaiboek ondersteun, is ongetwyfeld die regie en die naatlose redigering, wat ’n vinnige pas aan die film verleen.”

Afrikaansefilms.com sê: “Hierdie rolprent, wat verrassende sterk ooreenkomste met die uiters suksesvolle Pad Na Jou Hart toon, bied nietemin steeds ’n welkome afwisseling op die gebruiklike sprokieseinde. Eintlik Nogal Baie beloof om nie slegs ligte vermaak aan die kykers te verskaf nie, maar ook om hul hartsnare te roer en hulle oor die lewe te laat besin.”

Die rolverdeling sluit baie ander bekende en gewilde name in soos Ashmund Martin, Elsabé Daneel, Anton Dekker, Susanne Beyers, Themsi Times en Hein de Vries.

“Dit is definitief ’n film wat die hartsnare prikkel en jou weer laat glo in die lewe.

Om die rol van Jay te kon vertolk, was baie bevredigend en het my as mens en akteur verdiep,” se André.

Die prent is in samewerking met Leomark Studios, LLC in Los Angeles in Spaans oorgeklank en word eersdaags vrygestel op DVD en VOD in lande soos Amerika, Puerto Rico, Dominican Republic, Cuba, Mexico, Guatemala, El Salvador, Nicaragua, Costa Rica, Panama, Colombia en Venezuela.

Eintlik Nogal Baie is vervaardig in samewerking met The National Film and Video Foundation, The DTI, MadRobot en was deur Times Media Films plaaslik versprei.

Eintlik Nogal Baie is beskikbaar op DVD en DStv Box Office sedert 24 Februarie 2017.

Kyk die lokprent hier: