Motoriste wat Woensdagoggend die besige verkeer in Sandton se Corlett-rylaan aangedurf het terwyl hulle ingeskakel was op die radiostasie Jacaranda FM se ontbytprogram, The Complimentary Breakfast, was in vir ’n groot verrassing.

[caption id="attachment_159267" align="aligncenter" width="600"]Foto: Kyle Cestari Voetgangers het nie op hulle laat wag om selfies te neem nie. Foto: Kyle Cestari[/caption]

By die Ilovo Junction-winkelsentrum kon mense dit wat hulle op die radio hoor op ’n groot advertensiebord in lewende lywe sien afspeel.

Regstreekse beeldmateriaal het twee akteurs, ’n man en ’n meisie, gewys wat op ’n stel op die sypaadjie vóór die sentrum ’n fiktiewe liefdesverhaal uitgevoer, gesinkroniseer op die maat van musiektreffers wat hulle op die lug "sing".

Maar luisteraars is nie totaal in die duister gelaat nie. Hulle kon stem uit verskeie opsies hoe hulle dink dié verhaal moes ontvou. Die gebeure en liedjies is telkens op die stel aangepas na gelang van die stemmery.

[caption id="attachment_159268" align="aligncenter" width="600"]Foto: Kyle Cestari Mense bondel saam voor die advertensiebord om na die aksie te kyk. Foto: Kyle Cestari[/caption]

Voor die sentrum het voetgangers op die sypaadjie saamgedrom terwyl motoriste in die verbygaan hul duime gelig en op hul toeters gelê het.

Hierdie hele petalje, bekend as “die grootste liefdesverhaal wat nog nooit vertel is nie”, was toe al die tyd ’n reklamefoefie ter viering van Jacaranda FM se nuwe markposisionering: “More music you love”.

“So iets is nog nooit deur enige ander radiostasie in die wêreld gedoen nie,” verduidelik Jacaranda FM se bestuurder, Kevin Fine.

[caption id="attachment_159269" align="aligncenter" width="600"]Kyle Cestari Die interaktiewe liefdesverhaal speel af op ’n verhoog op die sypaadjie. Foto: Kyle Cestari[/caption]

“Ons navorsing wys dat gehore meer musiek wil hê waarmee hulle kan saamsing en -dans; musiek waarmee hulle ’n dieper verbintenis vorm. Dis presies wat ons produk bied en dié was ’n prettige manier om dit bekend te stel!”

Dit was ’n reklamevrye uur op die lug en, wanneer dit tyd was vir ’n musikale verpose om die stel vir die volgende hoofstuk gereed te kry, het die ontbytspan nuus- en verkeersbrokkies gedeel. Die Jacaranda FM-aanbieders het ook kykers (en luisteraars) op ’n groot skerm op hoogte gehou van waaroor die oproer gaan, sowel as wat hulle volgende kan verwag.

Dit was omtrent ’n vrolike manier om die verkeer tot stilstand te bring, maar dié keer het niemand gekla nie!