In haar 15 jaar op die regbank het regter Thokozile Matilda Masipa heelwat hoëprofielsake aangehoor. Tog sal die drama van die Oscar Pistorius-moordsaak en die wêreldwye belangstelling wat dit uitlok, dié sake verdwerg.

Die departement van justisie verwag 300 verslaggewers gaan die saak dek. Dis twee keer soveel as wat die Paralimpiese atleet se borgtogaansoek bygewoon het. Thokozile oorweeg formele versoeke om regstreekse televisie-uitsendings van die verrigtinge in die Pretoriase hooggeregshof toe te laat.

Thokozile was ’n misdaadverslaggewer wat dikwels berigte geskryf het oor die vernederende lewe onder apartheid. Sy het in haar laat 40’s ’n advokaat geword en is in 1998 as ’n regter in die Transvaalse afdeling aangestel.

Sy het onder meer die reeksverkragter en inbreker Shepherd Moyo gevonnis en die afgedankte Eskom-hoof, Jacob Maroga, se eis om R85 miljoen vergoeding van die hand gewys. In haar uitspraak in die Maroga-saak het sy gepraat oor waar die regering se magte begin en eindig met betrekking tot staatsbeheerde ondernemings.

“’n Aandelehouer mag nie inmeng in die besluitneming van die raad oor die maatskappy se interne sake nie,” het sy gesê. “Die mag van die minister dat hy direkteure in die raad van Eskom kan aanstel, moenie verwar word met die mag van die raad om die uitvoerende beampte aan te stel en sy werkkontrak te beëindig nie: daar bestaan ’n geskrewe werkkontrak tussen mnr. Maroga en Eskom. Die minister is nie deel van die kontrak nie en mag nie inmeng nie. Die minister het geen uitvoerende rol in Eskom nie.”

Die regter het ook ’n bydrae gelewer tot die grondwetlike pligte van plaaslike regering met betrekking tot behuising.

In 2009 het sy in die saak van Blue Moonlight Eiendomme 39 teen die inwoners van Saratogalaan het sy beslis die Stad Johannesburg het sy plig versuim om alternatiewe behuising te kry vir plakkers wat gedreig is met uitsitting uit ou pakhuise in die voorstad Berea.

Die raad het beweer hulle kan nie noodskuilings beskikbaarstel vir die uitgesitte mense nie. Die regter het dié stelling afgemaak as “uiters vaag en glad nie behulpsaam nie”.

Sy het gesê: “Dis duidelik die stad probeer hulle in hierdie saak distansieer van die probleme van die onwettige besetters. Dis strydig met die Grondwet en kom daarop neer dat die stad nie sy grondwetlike pligte nakom nie.”

Nadat die departement van justisie aangekondig het sy gaan die Pistorius-saak aanhoor, het die media gefokus op twee uitsprake waarin sy die maksimum vonnis opgelê het aan mans wat skuldig bevind is aan geweld teenoor vroue.

In die Moyo-saak verlede Mei het sy ’n vonnis van 252 jaar opgelê as afskrikmiddel. Sy het in haar uitspraak gesê die drie verkragtingslagoffers van die man wat ’n reeks inbrake uitgevoer het in die noorde van Johannesburg, is lewenslank getraumatiseer. Sy gebrek aan berou maak dit onwaarskynlik dat hy gerehabiliteer kan word.

“Uit my oogpunt is dit die ergste dat hy die slagoffers aangeval en verkrag het in die heiligdom van hul eie huis, waar hulle gedink het hulle veilig is,” het sy gesê.

Sy het in 2009 lewenslange gevangenisstraf opgelê aan ’n polisieman, Freddy Mashamba, wat sy eksvrou ná ’n rusie oor hul egskeidingsooreenkoms doodgeskiet het.

“Niemand is bo die reg verhewe nie. Jy verdien lewenslange tronkstraf omdat jy nie ’n beskermer is nie; jy is ’n moordenaar,” het sy gesê.

Haar kollegas sê Thokozile se kennis van die reg en welsprekende bekwaamheid gaan gepaard met ’n bedeesde geaardheid, en dat sy nie die aandag gaan geniet wat sy van 3 Maart sal kry nie. Sy het twee assessore aangestel wat nog nie genoem is nie.