Dit is ’n soel, laat-somersaand in die Oos-Kaap gedurende Maart 2011. Die nagskofverpleegpersoneel is klaar met hul rondtes. Die pasiënte is rustig, en die meeste slaap al hier in die St. Barnabas-distrikshospitaal naby Port Alfred.

Die verpleegsters ontspan met ’n koppie koffie, maar onderlangs hou hulle die donkerte buite deur die vensters dop. Hulle weet hulle gaan vannag nie slaap nie, want sê nou dit gebeur weer, maal dit deur hul gedagtes.

Net die studentverpleegster, wat twee dae gelede met haar praktiese opleiding begin het, roer haar koffie rustig. Sy is onbewus van die spookverskynsels wat al van Januarie af hier amok saai.

Die gebliep van ’n mediese monitor klink skielik hard uit saal 9, direk langs die personeel se ruskamer. Die suster aan diens vra die ywerige student-verpleegster moet gaan kyk, maar in ’n oogwink storm sy terug. Sy bewe van skok. Stotterend vertel sy hoe ’n monitor-masjiene besig was om lesings te neem van ’n pasiënt se mediese toestand, maar daar was geen pasiënt aan die masjien gekoppel nie.

Sy het die masjien afgeskakel, maar dit het geweier. Toe trek sy die muurprop uit, waarna dit onmiddellik oorgeskakel het na batterykrag en voortgegaan het om die onsigbare pasiënt se toestand te monitor.

Die suster aan diens kon maar net haar kop skud, want sy het geweet.

’n Woordvoerder van die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement, Sizwe Kupelo, vertel daar was tussen Januarie en Maart 2011 paniek in dié hospitaal. Behalwe vir die masjiene wat vanself begin werk het, vertel pasiënte ook van gevalle toe iemand, wat hulle nie kon sien nie, hul snags kom toemaak het.

Kupelo het gesê “die ding” wat die plek teister, is onsigbaar; daarom is daar niks wat die regering kon doen nie, maar hy het as ’n welwillendheidsgebaar tog berading vir die personeel gereël.

Maar die ergste was die wasige gestalte van ’n verpleegster wat in dié tyd ’n paar keer ná middernag deur die hospitaal se hekke gestap het. Wanneer die veiligheidspersoneel haar uitgevra het, het sy net geantwoord: Ek is op pad werk toe. Dan het sy in die donker nag verdwyn . . . Deur Jaco Hough-Coetzee

Wen

’n Gelukkige leser van die Pretoria-omgewing kan ’n dubbelkaartjie van R450 wen na die Pretoria-spookbustoerproduksie op 8 Maart. Stuur ’n leë e-pos na spookbus@gmail.com voor Saterdag 2 Maart met die woorde HG-KOMPETISIE as die onderwerp.