Derek is vriende met die voormalige kampioenswemmer se pa, Mike Wittstock, en het op Twitter gesê: “My ou skoolmaat van Bulawayo Mike Wittstock het gebel om te sê sy dogter verwag ’n tweeling. Geluk, prinses Charlene en Albert!”

Die nuus het soos ’n veldbrand versprei en Mike het dit gisteraand aan Die Burger bevestig en gesê: “Ons is baie opgewonde.” Mike het ook gesê die geslag van die babas is nog nie bekend nie

Charlene se man, prins Albert II van Monaco, het reeds twee kinders uit vorige verhoudings, maar omdat hulle nie binne die huwelik gebore is nie, kan hulle nie op die troon aanspraak maak nie.

Die koninklike paartjie het in 2011 getrou en het einde verlede maand bekendgemaak Charlene is swanger. Die kort verklaring wat toe uitgereik is, het gesê die geboorte word voor einde vanjaar verwag.

Bronne: Die Burger, Daily Mail, Sapa