Hy was Suid-Afrika se bekendste “Seeman” en ’n operaster wat uitgelese gehore in Wenen en München met sy goue stem bekoor het.

Gérard Korsten, beter bekend as Gé, is op 6 Desember 1927 in Rotterdam, Nederland gebore. Toe hy nege jaar oud was, het die gesin na Suid-Afrika verhuis.

Hy het ’n roemryke loopbaan gehad, maar min mense weet Gé het as ’n elektrisiën gewerk voor hy as 20-jarige in kore begin sing het.

In 1962 het hy ’n beurs gewen om in Wenen onder Judith Hellwig te studeer. Gé het hom egter eers in 1970 heeltyds op sy musiek begin toespits.

Hy het met Elna Burger getrou en hulle het vyf kinders gehad. Hul seun Gérard is ook ’n bekende violis en dirigent en sy dogter Linda was medevervaardiger van die fliek: Liefling met Lika Berning en Bobby van Jaarsveld. Dit was ook Linda se huldeblyk aan haar pa.

Gé se stryd teen erge depressie het in alle waarskynlikheid tot sy selfdood op 29 September 1999 gelei. Elna is op 26 Maart 2012 in die ouderdom van 81 oorlede.

Vir talle is Gé vandag nog met sy ongelooflike stem die “Seeman van alle seemanne”.

Nog ’n paar goue Gé-treffers

Gé se silwerdoekverskynings

In die fliek Hoor My Lied (1967) speel Gé die singende dokter met ’n verlamde dogtertjie (Lindie Roux) en ’n gawe verpleegster (Helga van Wyk). Die karakter se oorlede vrou is vertolk deur Min Shaw. Martin Pols, wat talle sal onthou as Mark Condor in die fotoverhaalboekies van toeka, is die onvergenoegde en bedorwe brokkie.

Wena Naudé en Sann de Lange sorg vir komiese verligting.

In 1970 moet ds. Paul Murray (Gé) in Lied in My Hart kies tussen sy beroep en die liefde. Mitsi Stander en Min Shaw, asook Patrick Mynhardt, Sann de Lange, Nellie du Toit en Siegfried Mynhardt het in die fliek gespeel.

In A New Life (1971) het Gé saam met Maryann Jonston en die bekende Suid-Afrikaanse sopraan, Leonore Veenemans, gespeel. Lindie Roux (van Hoor My Lied-faam) en die Drakensbergse Seunskoor het vir ’n musikale kragtoer gesorg.

Daarna het Lokval in Venesië (1972) gevolg. Hy het die rol van die ambassadeur Alwyn van der Hoven vertolk. Ander bekendes soos June Seymour, Len Lindeque, Tromp Terre’blanche en Chris du Toit het ook in die fliek verskyn.

Ses kitsfeite

1. Gé was ’n stigterslid van die Pretoria Operagroep in 1955

2. Nege van sy 58 albums het goue status bereik

3. Liefling word steeds by geleentheid op Loftus Versfeld gehoor

4. Van 1958 tot 1989 het hy die pos van besturende direkteur van die Kaapse Raad vir die Uitvoerende Kunste beklee.

5. Op 8 Januarie vanjaar is Gé ingesluit in ’n stel van 10 standaardposseëls wat gewilde musikante vereer.

6. Hy was ook in Egoli te sien as Walt Vorster, en het selfs een keer saam met die veteraan-aktrise Joan Collins in ’n toneel verskyn.

Bronne: imdb.com, wikipedia.org