Travis is gebore met ’n seldsame breinwanvorming, septo-optiese displasie (SOD). Sowat ’n derde van alle kinders met SOD sal outistiese kenmerke vertoon. “Hy het outistiese eienskappe, nie outisme nie,” beklemtoon Stacey (32).

’n MRB-skandering op ’n kind met outisme wys niks skort met hul breinstruktuur nie. “Maar as jy ’n MRB-skandering op Travis doen, is dit baie duidelik dat hy gebore is met ’n vreemde struktuur in sy brein. “Sy neurale netwerk moes aanpas om hierdie ‘beskadigde’ gedeeltes te vermy en dit veroorsaak dat hy al die eienskappe vertoon van ’n kind met outisme,” sê Stacey.

Die Leeueharte, soos Stacey haar gesin noem op There’s a Lionheart in Our Bathtub (lionheartinourbathtub.blogspot.com), haar blog, neem graag jaarliks in April deel aan ’n geldinsamelingsveldtog met die oog op outismebewusmakingsmaand. Hulle het in 2011 saam gaan loop in die outismebewusmakingstaptog om die Dieretuinmeer in Johannesburg. “Maar ons wou iets tasbaarders doen,” sê Stacey.

Sy het toe besluit om ’n tweedehandse iPad te kry om aan ’n outistiese kind te skenk. “iPads en outisme pas bymekaar soos grondboontjiebotter en konfyt, roomys en warm sjokoladesous, Simon en Garfunkel,” skryf sy op ipadsforlionhearts.co.za, haar webtuiste.

“Om die een of ander rede is ’n iPad ’n raakvlak wat goed werk vir ’n kind met outisme. Dis ’n opvoedkundige en kommunikasiemiddel en gee hulle selfvertroue. Soms is ’n iPad hul enigste vriend in ’n eensame, verwarrende wêreld.”

Maar selfs tweedehandse iPads is duur en ’n luukse wat baie ouers nie kan bekostig nie. “Ons doelwit was om net een vrygewige mens te oorreed om hul tweedehandse iPad af te staan, wat ons dan sou skenk aan ’n gesin wat nie kan bekostig om een vir hul kind met outisme te koop nie.”

Eindelik het die 12-jarige Emma Hunt van Durban, wat Asperger se steuring het, die iPad gekry. “Nog gesinne het aan die blog geskryf om te ’n iPad te vra en om oues te skenk. Toe besluit ons om dit verder te voer,” sê Stacey en lag.

“Dit kan ’n ongelooflike toestel wees vir die regte kind.” Kinders met hoër funksionerende outisme, soos dié met Asperger se steuring, sal die iPads beter vir kommunikasie kan gebruik. Stacey sê daar is allerhande apps wat kinders met spesiale behoeftes help om dié toestelle baas te raak. “Dit kan hulle ook hul behoeftes help uitdruk,” sê sy.

Party vertoon flitskaarte met foto’s pleks van strokiesprente; dit help outistiese kinders beter verstaan wat bedoel word. Daar is ook apps vir ouers van kinders met spesiale behoeftes wat dit moontlik maak om hul kind se gedrag dop te hou.

Die veldtog was so suksesvol, Stacey registreer dit nou as ’n onderneming sonder winsbejag sodat mense ook geld kan skenk. Hulle mik daarna om vanjaar altesaam sowat 30 gesinne met kinders met spesiale behoeftes te help. Besoek gerus youcanhelp.co.za vir nog inligting.

-  Kirsting Buick