En die druk op Elton Jantjies in die sleutelposisie van losskakel, gaan bepaald nie afneem nie... Daarom sal Suid-Afrika nou Saterdagaand daar op die Poema-jagveld van Salta deurgaans ware spanwerk aan die dag moet lê.

Só reken die oud-Bokke Wynand Claassen en Errol Tobias. Intussen is hulle nie altwee seker of Allister Coetzee wel Morné Steyn moes ontbied het vir ingeval Elton sukkel nie...

Wynand, voormalige Bok-agtsteman en -kaptein, sê aan Huisgenoot: "Die Poemas het in Nelspruit gesien hulle kan heel moontlik die Bokke wen."

Hulle was boonop sonder enkele van hul topspelers. "Voorts gaan die omgewing en ondersteuners dit ook 'n baie moeilike toets maak.

"Daarom sal ek regtig wil sien dat die hele span begin saamspeel. Hulle is vir my nog taamlik individualisties; elke ou wil sy eie ding doen. Eben Etzebeth, Lood de Jager en Pieter-Steph du Toit is byvoorbeeld almal uitmuntend, maar ek sal ons pak meer as 'n eenheid vorentoe wil sien gaan."

En waar al die vrae oor sy bestendigheid "nou baie druk op Elton plaas, bly hy 'n ongelooflike belowende speler. Hy moet net probeer ontspan en die dinge doen wat hy vir die Leeus gedoen het. Hy is so 'n begaafde speler".

"Ons funksioneer nog nie goed as 'n eenheid nie", en sukkel om ons wedstrydwenners op dreef te kry, beaam Errol, voormalige Bok-losskakel. En hy reken Elton kan meer instinktief speel, "elke bal hanteer volgens wat die situasie verlang. Maar gee hom nog 'n paar toetse kans..."

Intussen wag hy nog dat heelparty ander spelers hul peil moet lig. "Onder andere Francois Louw en selfs ons kaptein. En gehalte-senterspel was sover afwesig... Dit gaan nie net oor Elton nie."

Waarom Morné dan op die reserwebank as 'n bedrewe losskakel soos Johan Goosen indien nodig vanaf heelagter -- waar Allister hom nou in Willie le Roux se plek inspan -- nommer tien toe kan skuif?

"Ons verwag hulle gaan ons met hul taktiese skopwerk onder druk probeer plaas," het Allister vroeër verduidelik.

"Die ervare Morné kan ons dus met sy skopvaardighede goeie dekking bied."

Errol kan hom nie oor Morné "se spelpeil uitlaat nie". Maar hy skat Allister soek iemand wat druksituasies ken. "Morné kan stellig die wa deur die drif help trek as ons dalk begin vasval."

In onlangse toetse het ons hoeka nog nie "in die laaste twintig minute die wedstryd in die sakkie gehad nie".

Voorheen sou 'n mens dit immers teen die betrokke teenstanders van die Bokke verwag het. "Dit kan nou wel van kardinale belang wees om iemand op die bank te hê wat teen die einde foutloos kan speel en 'n vaster spelpatroon volg..."

Morné het al voorheen vir die Bokke die kastaiings uit die vuur gekrap, gee Wynand toe. Maar Johan Goosen het immers vanjaar telkens vir sy Franse span onder groot druk deurslaggewend presteer en ook lang skoppe oorgesit.

"Ek sou indien nodig eerder vir Johan losskakel toe skuif en Jesse Kriel heelagter toe."

Maar beide oud-Bokke is geesdriftig oor ons span se vooruitsigte. Errol reken net hulle moenie verder as dié tweede toets kyk nie en allereers konsentreer op die leemtes in hul mondering.

"Ons moet geduldig wees," sê Wynand. "Hierdie is 'n jong span wat nog hul voete vind. En hoe hulle die wedstryd in Nelspruit uit die vuur gepluk het, wys klaar vir ons hulle het guts en deursettingsvermoë."

Hierdie Springbokspan speel Saterdag, 27 Augustus, 21:40 teen Argentinië in Salta:

15. Johan Goosen

14. Ruan Combrinck

13. Lionel Mapoe

12. Damian de Allende

11. Bryan Habana

10. Elton Jantjies

9. Faf de Klerk

8. Warren Whiteley

7. Oupa Mohoje

6. Francois Louw

5. Lood de Jager

4. Eben Etzebeth

3. Vincent Koch

2. Adriaan Strauss (kaptein)

1. Tendai Mtawarira

Plaasvervangers

16. Bongi Mbonambi

17. Steven Kitshoff

18. Lourens Adriaanse

19. Pieter-Steph du Toit

20. Jaco Kriel

21. Rudy Paige

22. Morné Steyn

23. Jesse Kriel