Prof. Wayne Derman het af en toe selfs gevra regter Thokozile Masipa moet ingryp. Een keer was dit om adv. Gerrie Nel, staatsaanklaer, te dwing om ’n stelling terug te trek. Nog ’n keer het hy aan Masipa gesê hy verstaan nie waarheen Nel se ondervraging lei nie, waarop Masipa gesê het hy hoef hom nie daaroor te bekommer nie. Derman het ook met Masipa gestry oor die styl van Nel se kruisondervraging. Toe Masipa later net stilbly, het Derman na Nel gekyk en gesê: "Kom ons gaan aan; jammer, mnr. Nel," waarop Nel se antwoord was dat hy asseblief die hof moet aanspreek.

Nel het Derman uit die staanspoor omgekrap toe hy sy ondervraging begin het deur twyfel te skep oor of Derman ’n deskundige getuie is. Oscar Pistorius se moordverhoor is die eerste strafsaak waarin Derman getuig. Derman het gesê hy is in die hof om sy ervaring van die afgelope ses jaar dat hy Oscar ken, aan die hof oor te dra sowel as sy kennis van gestremdes en die struikelblokke wat hulle ervaar.

Derman het gesukkel om verskeie van Nel se vrae te beantwoord, waarop Nel telkemale gesê het ’n kundige sou dit wel kon doen.

Nel sal ná middagete met sy kruisondervraging voortgaan.