Die gewelddadige terreuraanval op 13 November het Parys in rou gedompel. Hier beskryf Shané Barnard, ? vryskutjoernalis wat by Huisgenoot gewerk het, die somber atmosfeer in die stad. Sy het in September 2014 Frankryk toe getrek toe haar man, Francois, sy Meestersgraad in volhoubare ontwikkeling daar gaan studeer het.

[caption id="attachment_111696" align="alignnone" width="600"]Shané en haar man, Francois Barnard. Shané en haar man, Francois Barnard.[/caption]

"

Parys het Saterdagoggend onder ’n grys wolkkombers wakker geword.

Die skril sirenes van ambulanse en polisievoertuie wat die vorige aand oral deur die stad gehoor kon word, het plek gemaak vir gedempte praatjies tussen bure en nuuslesers wat in die agtergrond die jongste oor die terreuraanvalle oordra.

In die woonstelblok oorkant ons, het ’n ou tannie ’n Franse vlag oor haar balkon gehang. Skole, museums en ander openbare plekke soos gimnasiums, swembaddens en fliekteaters is onder die landswye noodstoestand wat president François Hollande ingestel het, gesluit. Ons word aangeraai om liewer tuis te bly.

Strate wat gewoonlik dag en nag wriemel met mense is byna heeltemal verlate

Strate wat gewoonlik dag en nag wriemel met mense wat inkopies doen, toeriste-aantreklikhede besoek of in restaurante eet, is byna heeltemal verlate. Tot die bakkery op die hoek het die staaldeur voor sy ingang toegetrek.

By Place de la Republique, net ’n klipgooi van die Bataclan-teater waar die gyselaarsdrama afgespeel het, het mense hier en daar blomme kom neerpak of ’n kers aangesteek.

Maar daar was geen teken van die honderde duisende mense wat ná die Charlie Hebdo-skietery tien maande gelede in samesyn hier saam gestap het nie. Die 20 000 ligte wat gewoonlik saans die Eiffeltoring verlig, is Saterdagaand afgeskakel uit empatie met die slagoffers en hul families. Die stad van lig het tydelik donker geraak. Maar teen Sondagaand het die dinge weer plek-plek begin verhelder deur die geflikker van duisende kersligte wat in vensters die hele stad oor gesien kon word." Lees meer in hierdie week se Huisgenoot (26 November) oor die aanvalle.