Bring jy ure in die kombuisdeur om kos vir elke ouderdomsgroep van jou gesin te berei? Dis glad nie nodig nie; hier is ’n heerlike gereg vir almal van baba (nege maande en ouer) tot ouma. Bolognesesous is die ideale gereg waarby jy ekstra groente kan inwerk. En as jy dit saam met kapokaartappels voorsit, is dit nommerpas vir babas ouer as nege maande. Die aartappels kan natuurlik heel of brosgebraai vir die ouer lede aan die gesin voorgesit word. En vir diegene wat hou van ’n bietjie meer geur, kan jy selfs ’n brandrissie invoeg ná baba se bakkie uitgeskep is.

Bereiding: 15 minute

Gaarmaaktyd: sowat 2 uur

Genoeg vir 8-10 porsies

Bolognesesous

  • 15 ml (1 e) olyfolie
  • 1 ui, fyn gekap
  • 1 knoffelhuisie, fyn gekap
  • 500 g ekstra maer maalvleis
  • 1 wortel, gerasper
  • 1 selderystingel, fyn gekap
  • 15 ml (1 e) pietersielie
  • 1 blik (410 g) gekapte tamaties

Kapokaartappels

  • 750 ml (3 k) rou aartappels, in
  • blokkies gesny
  • 500 ml (2 k) blomkoolblommetjies
  • 250 ml (1 k) botterskorsie of
  • patat, geskil en in klein blokkies gesny
  • 60 ml (¼ k) jogurt indien nodig

Maak die bolognesesous

Verhit die olie in ’n kastrol en braai die ui en knoffel tot sag en geurig. Roer die maalvleis by en braai tot net gaar. Roer die wortel, selderystingel, pietersielie en tamaties; roer tot alles goed gemeng is. Verlaag die hitte en laat prut sowat twee uur. Maak fyn met ’n staafmenger of in ’n voedselverwerker.

Maak die kapokaartappelmengsel

Stoom die aartappels, blomkool en botterskorsie elk op sy eie tot gaar. Druk fyn en roer jogurt by as die mengsel te styf is. Sit voor saam met die maalvleissous.

- Bernice van der Merwe