’n Kaapse kunstenaar stal binnekort 365 miniatuurskilderye uit nadat sy haar projek 365 Paintings for Ants op die laaste dag van die jaar voltooi het.

Lorraine Loots (28), oftewel Mierneef, het haar die hele 2013 daaraan toegewy om elke dag ’n miniatuurwaterverfskildery te verf.

Haar projek bied mense die geleentheid om ’n datum te bespreek met ’n reeks moontlike versoeke van wat hulle wil hê sy op daardie dag moet skilder. Al wat hulle moet doen, is om ’n kort verduideliking te gee oor die persoon vir wie dit bedoel is. Al voorwaarde is dat dit universeel moet wees en nie iets te persoonliks soos ’n foto van ’n geliefde nie.

“Ek kry vreemde versoeke,” lag Lorraine. “Iemand het selfs al gevra ek moet die internet verf. Ek het net gelag. Sommige goed is net nie moontlik om te verf nie.”

mierneef

Volgens haar hou mense van die konsep omdat hulle iets kan koop wat deel is van ’n groter versameling en dat dit ook persoonlike herinneringe en belang het.

Die skilderye is tussen 15 mm en 30 mm groot en kos R500 elk. Van die prentjies wat sy al geverf het, sluit in ’n lugballon, rolskaatse en ’n seepampoentjie. Elke maand se skilderye word in ’n ander soort hout geraam en sal in die eerste week van Januarie  as ’n versameling uitgestal word.

Lorraine kom oorspronklik van Somerset-Wes en het haar honneursgraad in visuele kommunikasie aan die Universiteit Stellenbosch behaal en haar meestersgraad in film en media aan die Universiteit van Kaapstad.

Haar pad tot by die suksesvolle projek was allermins maklik, want nadat sy haar werk gelos het as die bestuurder van sosiale media by ’n maatskappy wat geleenthede reël, moes sy in ’n stadium 14 verskillende werke doen om kop bo water te hou. Sy het al rolprentproduksies bestuur, was ’n kelnerin, het fietse versier en ’n proefleser. Einde verlede jaar het sy van ’n sakekursus aan die UK te hore gekom wat kunstenaars goeie sakebesluite help neem, ontledingstate behartig en belasting  en bemarking doen.

Ná die kursus het sy tot die gevolgtrekking gekom dat sy nie ’n bestaan uit kuns wil voer nie, maar dat sy dit liewer as ’n stokperdjie wil beoefen. Die kursus was nog nie verby nie en sy moes toe in elk geval ’n denkbeeldige sakeplan indien.

“Ek het begin dink aan wat binne ’n jaar moontlik sal wees. Ek het effens obsessief-kompulsiewe neigings; dus het ek geweet ek gaan elke dag iets moet doen. Toe begin ek dink wat ek binne ’n uur gedoen sal kan kry en ek het op die miniatuurskilderye besluit.”

Ná haar voorlegging het een van die dosente na haar toe gekom en gesê sy bespreek 12 Augustus.

En die res . . . die res is geskiedenis, tot sy volgende jaar ’n nuwe reeks mier-skilderye aanpak.

[post-slider]

Marelize Potgieter

Foto's deur Corrie Hansen