Die hertog en hertogin van Cambridge weet nie of hul baba ’n seun of ’n dogter gaan wees nie.

William en Catherine wil dit doelbewus nie tydens die swangerskap uitvind nie, sê Ed Perkins, ’n woordvoerder van Clarence House, volgens Radar Online.

Die koninklike kleinding sal volgende maand in die St. Mary-hospitaal in Paddington, Londen, gebore word. Dis dieselfde hospitaal waar prinses Diana die lewe geskenk het aan William en sy broer, Harry.

Die afgetrede dr. Marcus Setchell (69), koningin Elizabeth se voormalige ginekoloog, sal oor die geboorte toesig hou, het Ed bygevoeg.

Volgens hom sal William twee weke verlof neem van die militêre basis in Wallis om by sy vrou en kind te wees. – Kirstin Buick