In die wynlande van Constantia in Kaapstad gooi die berge laatmiddag lang skadu’s oor ’n lowergroen grasperk waar van die land se mooiste mense met glasies Franse sjampanje in die hand wag op die bruid se koms.

Sy’s laat – sy wag nog op gaste – maar hier op die wynlandgoed Uitsig voel dit asof die tyd stilstaan.

Die son sak oor ’n idilliese toneeltjie, die hele aand lê nog voor – en wie sal nie met vreugde wag om die internasionaal bekende model en skoonheidLee-Ann Liebenberg op haar groot dag te sien nie?

Tussen twee reuse dennebome is die trou-altaar geskep – ’n podium, vyf skitterende kristalkandelare en lieflike lelierangskikkings.

Hier wag Nicky van der Walt, bekende sakeman en gewese polospeler, dat sy bruid hom tegemoetstap.

’n Oomblik lank klink die helder stemmetjie van die twee se vyf maande oue dogtertjie, Gia, uit die voorste ry op, en die eerste klanke van Leonard Cohen se lied Hallelujah dryf deur die stil aandlug terwyl almal op-staan om die bruid te sien aankom.

Onder die 80 gaste vloei trane sommer uit die staanspoor toe Lee-Ann, asemrowend in ’n skepping van die ontwerper Gideon, snikkend aan die arm van haar pa, Allen, nader kom om ewige trou te beloof aan die liefde van haar lewe, soos sy Nicky al beskryf het.

As simbool van sy liefde gee Nicky vir sy bruid ’n roos, met die boodskap dat sy liefde vir haar bly groei, nes die roos uit ’n klein knop ontluik het. Lee-Ann verseker hom van haar liefde terwyl die trane steeds vloei, hulle belowe om altyd getrou aan mekaar te wees . . .

Die onthaalplek slaan die asem weg. Dié meesterskepping van die sterre se partytjiebeplanner Nick Nicolaou lyk soos ’n tuin in ’n Oosterse sprokie, met honderde orgidieë en wit lelies, voëlhokke, lanterns en kandelare in die bome.

In ’n waterpoel murmel ’n fontein; rondom is die tafels met ingevoerde Egiptiese tafeldoeke van linne bedek. Daar is verligte kristalvase uit Venesië en Pole en die sjampanje bly net vloei.

Die bruid het intussen haar tweede trourok, die een van Gavin Rajah, aangeglip en haar hare losgemaak, en nou stap sy onder luide gejuig aan die hand van haar nuwe man die onthaalplek binne. Dis tyd vir die voorgereg, ’n Noorweegse salmgereg of beet tarte fine en bokkaasfondant, voor die formele deel van die aand nou-nou begin.

Moenie die Huisgenoot van 31 Maart 2011 met pragtige troufoto's daarin misloop nie.