Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) se president, Lesetja Kganyago, het Donderdag ’n verhoging van 50 basispunte in die repokoers tot 6,75 persent aangekondig.

[caption id="attachment_116197" align="alignnone" width="600"]Foto: Pexels Foto: Pexels[/caption]

Dit beteken die prima rentekoers word 10,25 persent. Uitleenkoerse het met ’n kumulatiewe 175 basispunte sedert einde Januarie 2014 gestyg.

Lesetja sê die SARB se jongste inflasievoorspelling het agteruitgegaan. Inflasie sal na verwagting steeds deur die boonste teiken vir inflasie breek, en vir die hele fokusgebied daar bly.

Die verswakking in die voorspelling is hoofsaaklik weens aannames oor die wisselkoers en verwagte hoër arbeidskoste, het hy gesê aan die einde van die SARB se eerste monetêrebeleidskomitee- (MBK) vergadering vir die jaar.

Die rand het onmiddellik tydens Lesetja se aankondiging van R16,30 tot R16,33 teen die doller verswak.

Lees ook: Hoe om die skuldslagyster te vermy

Jacques du Toit, senior ekonoom by Absa, sê die MBK se besluit om die repokoers te verhoog nadat hulle in November ’n koersstyging aangekondig het, is geneem teen die agtergrond van faktore soos die swakker wisselkoers van die rand sedert einde verlede jaar, verwagte stygings in voedselpryse in die nabye toekoms weens die uitwerking van die ernstige droogte op landbouproduksie en die moontlikheid van bo-inflasie elektrisiteitstariefverhogings vanjaar.

Skuldkenners het voor die MBK se vergadering gewaarsku ’n toename sou verpletterend vir kliënte wees, veral dié wat reeds swaar trek met hoë skuldvlakke.

Lees ook: 11 Spaarwenke

Ian Wason, hoof uitvoerende beampte by DebtBusters, sê kliënte moet hulself voorberei en ander maniere vind om hul maandelikse uitgawes te dek pleks van lenings aangaan. DebtBusters se jongste Debtometer-verslag wys hul kliënte kort 102 persent van hul netto inkomste om hul skuld te delg voor hulle nog enige lewenskoste gedek het.

Hy sê dis veral middel- en boonste-inkomstegroepe wat moet uitkyk vir hoër lewenskoste en dit by hul maandelikse huishoudelike begroting in ag neem.

Bron: Fin24