Ons reken niemand gaan die vierde Britse troonopvolger laat wag op ’n werksonderhoud of hom enigsins oor sy agtergrond uitvra nie – hoewel hy al betrap is waar hy dagga rook en gekiek is toe hy ontklee-biljart in Las Vegas gespeel het.

Selfs as dit hom ’n rukkie neem om die regte werk te kry, behoort sy familie se fortuin hom aan te gang te hou tot hy sy eerste salaristjekkie ontvang. Koninklike beamptes het Dinsdag gesê die 30-jarige prins gaan in Junie die weermag verlaat. Kensingtonpaleis het gesê hy as vrywilliger vir ’n program wat gewonde soldate help, werk “terwyl hy aktief ander langtermyn-werksgeleenthede oorweeg”.

' Harry en sy broer, prins William, het die tradisie van senior koninklikes wat militêre rolle aaneem voortgesit.'

Intussen sluit Harry se laaste weermagpligte ’n vier week lange taak in April en Mei met die Australiese weermag in. Die prins sal tyd in Darwin, Perth en Sydney deurbring en die eeuviering van die Slag van Gallipoli tydens die Eerste Wêreldoorlog in Turkye bywoon.

Harry sê om die weermag ná ’n dekade te groet – hy het twee keer in Afganistan diens gedoen – “was ’n baie moeilike besluit”, maar hy is opgewonde oor die toekoms.

“Die ervaringe wat ek die afgelope 10 jaar gehad het, sal my vir die res van my lewe bybly,” het Harry in ’n verklaring gesê. “Ek sal altyd dankbaar daarvoor wees.”

Harry het in 2006 by die Sandhurst militêre akademie gegradueer en by die Household Cavalry as tenkbevelvoerder aangesluit. Hy het in 2007/08 vir 10 weke in Afganistan in die lugkorps diens gedoen totdat dit in die media uitgelek en sy toer kortgeknip is.

Hy was gretig om terug te keer na die voorste linies ten spyte van vrese dat die Taliban hom sou teiken. Die jong prins het nie op sy louere gerus nie en hy is heropgelei as helikoptervlieënier. In 2012/13 het hy in Apache-helikopters in Afganistan diens gedoen.

Hy het tot onlangs as stafoffisier in die weermag se hoofkwartiere in Londen gewerk en ’n leidende rol gespeel om die Invictus-spele – ’n internasionale sportkompetisie vir gewonde soldate – na Engeland te bring.

Harry en sy broer, prins William, het die tradisie van senior koninklikes wat militêre rolle aaneem voortgesit.

William het die koninklike vloot in 2013 verlaat ná uitgebreide opleiding as helikoptervlieënier en het ’n lugambulans-vlieënier geword.

Harry was die eerste Britse koninklike om in ’n oorlog te veg sedert sy oom, prins Andrew, wat tydens die 1982 Falklands-oorlog helikopters vir die koninklike vloot gevlieg het.

Harry het nog altyd gemakliker as soldaat as met sy koninklike pligte gelyk en dit was duidelik dat sy werk met liefdadigheidsorganisasies vir gewonde soldate hom groot plesier verskaf het.

“Dis maklik om te vergeet wie ek is wanneer ek in die weermag is,” het Harry met sy terugkeer van Afganistan in 2013 in ’n onderhoud gesê. “Almal dra dieselfde uniform en doen dieselfde ding.”