Terwyl haar man, pres. Barack Obama van Amerika, in Soweto was, het Michelle Obama tyd afgeknyp om Suid-Afrikaanse jong mense te ontmoet.

Die MTV Meets Michelle-ontmoetingsgeleentheid is regstreeks uitgesaai en tydens die uitsending is ook oorgeskakel na verskeie Amerikaanse state.

Die Amerikaanse presidentsvrou het haar toespraak begin deur te sê sy bid vir oudpres. Nelson Mandela en sy familie en ook vertel hoe inspirerend sy hom vind. "Wanneer ek soggens wakker word, dink ek aan Madiba en wat hy deurgemaak het. Dit spoor my aan."

Ná ’n informele gesprek is daar ook gepraat oor hoe ’n mens groepsdruk kan oorkom en hoe jy die internet as ’n onderrighulpmiddel kan gebruik. Die bespreking het ook inspirerende boodskappe ingesluit oor hoe ’n mens groot kan droom.