Angelique vertel van haar ervaring met die aanvalle; in nog ’n video gee sy raad oor wat haar gehelp het wanneer sy die aanvalle gekry het. “Ek is ’n A-tipe-persoonlikheid en hou daarvan om in beheer te wees. Ek is ook ’n  perfeksionis en plaas baie druk op myself dat almal van my hou. Dit is so simpel, maar dis hoe ek aanmekaargesit is.”

Gorgeous flowers by the amazingly talented @jeanette_paramithi ??? Photographer: @schantelmerwe

A photo posted by Angelique Potgieter (@angeliquegerber83) on

Sy het in ’n klaskamer gesit toe sy die eerste keer ’n angsaanval kry. “Ek was kortasem, my hart het geklop, dit het gevoel of my gees my liggaam verlaat en ek het beheer verloor. Ek het nie ’n benul gehad wat gebeur het nie, maar ek het aangegaan met my dag en lewe.”

“Met die jare sou ek op hoërskool klein paniekaanvalle kry.” Ná skool het Angelique sielkunde studeer en op haar eie in ’n woonstel gewoon – net sy en haar gedagtes.

“Ek weet nie of dit die paniekaanvallle veroorsaak het nie. In my tweede jaar was ek in ’n rolprentteater, toe dit voel asof ek ’n hartaanval gaan hê.

“Dit het gevoel asof ek gaan doodgaan. My handpalms het gesweet en ek het geruk; dit het gevoel asof ek mal word.”

Angelique, wat saam met vriendinne by die fliek was, het skaam gevoel. Sy is huis toe en kon 10 dae lank nie uit haar woonstel kom nie. “Elke keer dat ek in ’n winkelsentrum geloop of op die snelweg gery het, het die paniekaanvalle gekom.” Eindelik het sy met ’n vriendin gepraat, wat haar aangeraai het om ’n dokter te spreek, maar Angelique kon haarself nie so ver kry nie. In ’n tydskrif het sy ’n artikel gelees oor ’n vrou wat angsaanvalle kry – die simptome was presies nes Angelique s’n. Sy het ’n hulplyn gebel en ’n sielkundige gaan spreek. Medikasie het gevolg, maar sy het erger gevoel en die aanvalle het aanvanklik vererger. Later het dit gehelp; haar buie was bestendig. “Dit het wonderlik gevoel. Ek kon weer studeer en twee jaar lank het dit gehelp.”

Angelique het die medikasie vir twee jaar laat staan, maar is terug dokter toe en het dit daarna nog drie jaar lank gebruik.

“Ek het agt maande laas medisyne gedrink,” gesels sy in die video. Angelique het baie navorsing gedoen oor hoe om die aanvalle sonder medikasie te hanteer en voorkom.

Haar wenke oor hoe om angsaanvalle te hanteer:

  • Doen navorsing oor angsaanvalle; luister na ander mense se stories. Weet wat met jou liggaam gebeur wanneer jy ’n aanval kry. Jy moet minstens een mens hê wat verstaan waardeur jy gaan.
  • Spreek ’n professionele mens. Nie noodwendig ’n sielkundige wat medikasie gaan voorskryf nie, maar selfs ’n berader wat jou wenke kan gee.
  • Eet gesond. Al die hormone en antibiotika wat hulle in diere inspuit, is nie goed vir jou nie. Sy volg ’n plantgebaseerde dieet, met baie groente en vrugte en kry proteïen en omega-3 en -6 uit neute en sade. Sy het 6 kg binne vier maande verloor.
  • Koolhidrate is belangrik vir jou brein en vir energie deur die dag.
  • Drink baie water. Beperk koffie en gaskoeldrank.

“Gebed het my baie gehelp. Ek weet wanneer ek my dag met God begin, help Hy my deur die ergste tye. Wanneer ek ’n paniekaanval voel kom, bid ek. Dit help my om te weet daar is ’n Hoër Mag en Hy het alles vir my beplan. Dit kalmeer my baie.”