’n Foto van Tjokkie langs ’n hondebed en hoop hondebrokkies, het verlede week soos ’n veldbrand op sosiale media versprei.

Terwyl hy gereed maak om na ’n nuwe huis te gaan, staar sy eienaar - wat intussen geïdentifiseer is, moontlik kriminele klagte in die gesig.

Wollies Animal Project se woordvoerder, Cilla Trexler, sê Tjokkie is verlede week na hulle gebring nadat ’n polisieman hom langs die pad gekry het.

“Ons het ’n oproep gekry van iemand wat sê ’n hond is langs ’n afgeleë pad gelos. ’n Polisieman het daarvan te hore gekom, die hond gaan haal en na ons gebring” sê Cilla.

Eienaar in trane

Sy het gesê tot hul grootste verbasing het Tjokkie se oënskynlik-berouvolle eienaar die privaat diereskuiling in die daaropvolgende dae besoek met die belofte van ’n “ongelooflike storie” oor wat gebeur het.

“Hy het gesê hy gaan vir ons vertel wat regtig gebeur het maar ons het niks verder gehoor nie. Hy het wel gesê hy het die hond aan ’n bejaarde egpaar gegee en dat hulle het hom langs die pad gelos het. Maar ons glo nie daardie weergawe nie.

“Hy het in trane by ons aangekom. Ons het gewonder hoekom hy daarvoor sou verantwoordelikheid aanvaar en hy het gesê baie mense weet dit is sy hond. Hy het homself baie probleme besorg. Die polisie het gesê hulle gaan ’n saak teen die eienaar open, maar ek is nie seker van die besonderhede nie,” het Cilla bygevoeg.

Sy het gesê die skuiling het honderde aanbiedings gekry van mense wat Tjokkie wil aanneem.

“Ons word oorval. Hy vaar baie goed en ons het Saterdag ’n hondestapdag gehad. Tjokkie was ’n groot treffer by almal.”

Bron: News24