Die Paralimpiese atleet, Oscar Pistorius (30) se pa, Henke (64) het bevestig daar is ’n nuwe liefde in sy lewe.

Meer as dit is sy mond gesnoer oor die nuwe vrou in sy lewe.

Ek wil nie soos ’n tienerseun wat nuwe liefde gevind het voorkom nie
Henke Pistorius

“Man ja, daar is iemand. Maar ek wil nie graag nou daaroor praat nie,” het Henke Donderdag aan Huisgenoot.com bevestig. 

“Ek wil nie voorkom soos ’n tienerseun wat nuwe liefde gevind het nie,” het hy met Huisgenoot.com gespot. 

Huisgenoot het verlede jaar (Henke se geluk by die ongeluk, Huisgenoot 17 November 2016) berig Danette (wat in haar veertigs is) en Henke het twee jaar lank uitgegaan.

Hulle het kort na Oscar se eerste verhoor, na die skietdood van sy meisie, Reeva Steenkamp mekaar ontmoet. Henke het gereeld op Danette se Facebook-inskrywings met liefdeswoorde gereageer. 

Maar Henke en Danette se verhouding het intussen ’n stille dood gesterf. 

Henke sê hy en Danette Erasmus was net goeie pelle. “Ons is nou nog goeie pelle,” vertel hy van sy verhouding met die donkerkop bloemis van Pretoria.