Wanneer Mej. SA 2014 op 30 Maart aangekondig word, gaan sy gekroon word met ’n splinternuwe, glinsterende meesterstuk wat haar invloedryke titel gestand doen.

Sun International, wat al jare lank die kompetisie se lisensiehouer is, het ’n nuwe, manjifieke platinumkroon onthul. Jack Friedman Jewellers het dit spesiaal vir die geleentheid gemaak.

Die kroon is sinoniem met skoonheidskompetisies en die organiseerders van Mej. SA het besluit dat daar ’n nuwe kroon gemaak moet word vir die kompetisie, wat ook ’n oormaaksessie ondergaan het.

Die span by Jack Friedman Jewellers wou iets elegants en gedenkwaardigs skep. Hulle het besluit om die kroon te maak uit platinum, een van die aarde se skaarsste elemente. Dit is sinoniem met Suid-Afrika, wat 80 persent van die wêreld se platinum lewer. Die metaal in die kroon kom van Anglo American Platinum.

Miss SA finalist Dipalesa Mbola with the Palesa crown. Pic by Yolanda van der Stoep 3

Die Jack Friedman-span het kragte gesnoer met die kompetisie se ontwerper, die modeghoeroe Malcolm Kluk, en het inspirasie geput uit die skoonheid van inheemse Suid-Afrikaanse      blomme en tradisionele patrone om die treffende ontwerp te skep. Die kroon is “Palesa” gedoop, wat “blom” beteken.

Die 12 finaliste wat vir die titel – en die kroon – gaan meeding, kom van van alle uithoeke van die land. Hulle is: Abigail de Jager (Mpumalanga), Anzél Stofberg (Wes-Kaap), Caylene Marais (Gauteng), Dipalesa Mbola (Vrystaat), Jade Hubner (Wes-Kaap), Julia Petersen (KwaZulu-Natal), Matlala Mokoko (Limpopo), Mishka Patel (Wes-Kaap), Rolene Strauss (Vrystaat), Tidimalo Sehlako (Gauteng), Tshegofatso Monggae (Gauteng) en Ziphozakhe Zokufa (Oos-Kaap).

Die Mej. SA-kompetisie word deur Sun International aangebied en deur Cell C geborg. Dit vind plaas op Sondag 30 Maart. Dit word om halfses regstreeks op Mzansi Magic (DStv-kanaal 161) uitgesaai.

Besoek:

  • Webtuiste: misssa.co.za
  • Facebook: facebook.com/MsSouthAfrica
  • Twitter: twitter.com/Official_MissSA
  • YouTube: youtube.com/user/TheMissSAPageant