. Hier is ’n ope brief van nog ’n ouer wat ’n geliefde aan “hierdie verskriklike siekte” afgestaan het.

Aan Rick Warren en gesin

Woorde kan nie begin om te sê hoe hartseer ek was toe ek van jul seun se dood gelees het nie.

Dis nie omdat ek nie probeer het om die regte woorde te vind nie.

Dis omdat daar nie woorde is, in enige taal, wat die smart kan uitdruk van die verlies van ’n kind nie. Voeg daarby die smart van ’n kind afstaan aan “hierdie verskriklike siekte”, soos Virginia Woolf in haar laaste brief aan haar man geskryf het voor “hierdie verskriklike siekte” ook haar lewe geëis het.

Ouers wat ’n kind verloor het, is die dapperste mense ter wêreld. Om te moet aanhou lewe terwyl jy jou eie self verloor het. Diegene wat ’n kind aan depressie afgestaan het, is die dapperste van almal.

Sielkundiges praat in sulke gevalle van “saamgestelde smart”: smart wat laag op laag op genadelose laag van verdriet ervaar word; wat in elke senusel en elke sel inhamer; homself in hart, liggaam, elke vesel, elke hoek van die siel ingrawe.

En, die waarheid is, daar is geen kuur vir hierdie smart nie. Selfs die tyd is nie genadig nie, want al weet ek ek is reeds soveel jare, soveel maande, soveel weke, ure, minute en sekondes weg van daardie oomblik toe dit wat die Lewe was, in ’n miljoen stukkies verpletter is, kan ek steeds jou smart ervaar asof ons verlies maar dae gelede plaasgevind het.

Ek ken die verlatenheid en vernietiging wat jy nou ervaar. Die uiterste wanhoop, die totale ongeloof. Die emosionele en liggaamlike verlamming.

Ek weet hoe verwyderd van alles en almal jy op hierdie oomblik voel, asof op ’n ander planeet, in ’n ander sterrestelsel, duisende ligjare – donker jare – weg van alles wat was. Asemloos, leweloos. Hoe kan ’n mens oorleef wanneer jy jou eie bestaan verloor het?

Ek wil hê jy moet weet almal van ons wat op hierdie reis is, ervaar jul pyn in elke vesel in liggaam en wese. Al weet ek jy is omring deur sorgsame en liefdevolle medemense wat so graag jou pyn wil verlig, is daar niks wat die pyn kan verlig nie. Jy moet deur die oog van die storm beweeg.

Ons geliefde seun het inderdaad selfs jou boek op sy boekrak gehad, Rick. A Purpose Driven Life. Hoe hard het hy nie ’n doel probeer vind in ’n lewe waar sy siekte hom op ’n totaal verwarde, angswekkende, nuwe trajek gestuur het nie. Ons kan nie begin verstaan hoe die vreesaanjaende siekte iemand tot so ’n mate van die lewe vervreem dat dit die primitiewe instink om te oorleef, verteer nie.

En hoe hulpeloos was ons nie. Hoe kon ons nie ons geliefde kinders van hul verskriklike siekte red nie.

Jul seun se beskrywing kon ook ons s’n gewees het: sorgsaam, liefdevol, medelydend. Ons seun was ’n briljante student, in die vierde jaar van sy studie om ’n mediese dokter te word; al wat hy ooit wou wees. Om ander te heel, om hulle beter te maak. Sy lewensleuse: Beoefen sorgsaamheid. En tog, sy gekose beroep, geneeskunde, kon nie sy lewe red nie.

En ons wat agter gelaat is.  

Die bedroefdes, die ontneemdes, want nie net is ons geliefdes uit ons lewe weggeroof nie, hul siekte het hulle op die mees tragiese manier van ons geroof. En ons bly agter om sin te maak van iets wat eenvoudig nie sin maak nie.

Daar is geen woorde om as salf te gebruik vir die gapende wonde in ons hart, ons liggaam, ons siel nie. Daar is geen maklike Smart 101, pas dit en dit en dit toe, volg hierdie stappe, en julle sal leer om met die verlies saam te leef nie. Deur jul werk as versorgers in jul reuse-geloofsgemeenskap sal julle weet smart kan nie met ’n formule genees word nie.

Smart is harde werk.

Smart word ’n lewenstaak.

Daar is net die lang pad.

Hoe vind ’n mens dan ’n nuwe doel in die lewe wanneer ons gedink het ons het daardie punt bereik, geseën met genade en goedheid; geweet watter doel ons gehad het, en dat ons ons talente en energie gebruik het om die doelwitte uit te leef?

Tog is julle ook nou op ’n nuwe reis geslinger, moet julle ’n nuwe doel vind.

En ek hoop ’n deel van daardie nuwe doel is om die samelewing te help om meer begrip te hê vir hierdie sielkundige siekte met ’n biologiese oorsaak. Want net soos jy, wat vir ander ’n doel gegee het deur jou boek, nie jou seun van ’n liggaamlike sou siekte kon red nie, net so kon jy hom ook nie van sy sielkundige siekte red nie, dit het boonop ’n dodelike fase bereik sonder dat jy dit geweet het.

Ná jare, en maande, en weke, en dae, en ure, en minute, en vreeslike, folterend-stadige sekondes . . . probeer ek steeds verstaan dat om die lewe van ons geliefde kinders en al diegene wat slagoffers van hierdie verskriklike siekte was, te eer, moet ons die samelewing help om nuut te dink, volgens ’n nuwe paradigma, om ’n algehele kopskuif te maak oor hierdie siekte wat ons steeds nie kan begryp nie.

Ons moet die samelewing help om homself te bevry van eeue-oue godsdienstige en kulturele dogma, van eras waar biologiese siektes soos psigiatriese siektes nie nagevors, en dus verstaan, kon word nie.

Moet daarom asseblief nie toelaat dat die onnadenkende woorde van ander julle seermaak nie; diegene wat dink hulle is in ’n posisie om te oordeel, wat genadeloos, onmedelydend, onmenslik, en, ja, onchristelik, oordeel oor iemand wat aan ’n ernstige, terminale, dodelike siekte gesterf het.

Ons moet die samelewing help verstaan dat daar geen gesondheid sonder geestesgesondheid is nie. Unesco se Wêreldgesondheidsorganisasie voorspel dat depressie, in die besonder, as net een van verskeie psigiatriese siektes, teen 2020 die naasgrootste siekte sal wees, en teen 2030 die grootste. Tans is dit die derde grootste. En ons moet die samelewing help verstaan dit is nie ’n wilsbesluit om ’n mens se lewe te beëindig nie. Dit is die gevolg van ’n biologiese siekte. Dit kan trouens met ’n sielkundige beroerte vergelyk word.

En ons kan, en moet, die stilte, en die stigma, rondom die siekte verbreek, sodat ons openlik oor die siekte kan praat; sodat lyers in ’n vroeër stadium kan hulp soek; sodat mediese en terapeutiese ingryping vroeër kan begin; sodat meer lewens gered kan word. Sodat diegene wie se depressie ’n chroniese siekte sal wees, ’n gehalte-lewe kan lei en hul siekte bestuur soos ander hul diabetes of hartsiekte bestuur  – en help keer dat die siekte ’n terminale fase bereik. Meer oorwinnaars, minder slagoffers.

Ons kan begin deur anders te dink en te praat en te skryf oor die siekte en diegene wat hul lewe weens die siekte verloor het. Om mee te begin, nie te sê hulle het selfmoord gepleeg nie. Dit impliseer ’n rasionele besluit, ’n wilsdaad. Hul brein was biologies, fisies siek, met lewensondersteunende neuro-oordragstowwe wat totaal afwesig was. Hul siekte het in ’n dodelike, terminale fase ontwikkel toe die mens se belangrikste orgaan, die brein, nie meer lewe kon onderhou nie. ’n Biologiese, terminale, dodelike siek brein. Nie ’n gesonde brein wat tot ’n wilsdaad in staat is nie.

Kom ons begin daarom sê iemand het aan selfdood gesterf, nie dat hy selfmoord gepleeg het nie. Of mensliker nog, deur die siekte te erken wat hom van sy lewe beroof het: dat hy aan depressie dood is, soos iemand anders weens kanker dood is.

So eer ons die onbeskryflike sielkundige lyding van almal wat hul lewe weens depressie verloor het. So eer ons hul nagedagtenis; ons erken “hierdie verskriklike siekte”; en ons destigmatiseer en dekriminaliseer die slagoffer van die mens se ergste siekte. Want hulle is moreel gesproke nie “sondaars” nie, en hulle is ook nie “misdadigers” nie. Hulle het hul lewe aan “hierdie verskriklike siekte” verloor – die ergste een, die een wat ’n mens beroof van die instink om te lewe.

Diegene van ons wat ons geliefdes aan hierdie verskriklike siekte afgestaan het, kan net sê ons het meegevoel met julle. Ons stuur vir julle medelye en liefde en vrede, en ons kan maar net vra dat julle sagkens moet werk met julself. Julle word omarm deur medereisigers op hierdie reis van verlies, hierdie gemeenskap van ontneemdes, wat vir julle daardie een element stuur wat niemand van julle kan wegneem nie – in die woorde van Emily Dickinson: die ding met vere wat huiwer in die siel en ’n deuntjie sing sonder woorde, en nooit, ooit ophou nie: HOOP.

In smart en in medelye,

Lizette

Lizette Rabe is ’n professor in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch. Sy het ’n seun aan depressie verloor en is die beskermvrou van Huisgenoot en YOU se depressiesteungroep op Facebook  Sy het Ithemba gestig om bewustheid oor depressie as ’n biologiese siekte te bevorder en geld vir navorsing oor depressie in te samel. Ithemba beteken hoop in Xhosa. Huisgenoot, YOU en Drum sal later vanjaar die Hoop-staptog aanbied om die stilte te verbreek en ’n verskil te maak. Nog besonderhede sal later bekend gemaak word. As jy ’n geliefde aan selfdood afgestaan het, kan jy gaan na survivorsofsuicide.org.za, ’n kuberhawe vir agtergeblewenes.