In die eerste aanval het gewapende mans Sondagoggend losgebrand onder vakansiegangers by twee gewilde oorde in die Ivoorkus.

Ooggetuies vertel minstens twee mans gewapen met masjiengewere het op toeriste en personeel by die hotelle in Grand Bassam, sowat 40 km oos van Ivoorkus se hoofstad, Abidjan, begin skiet.

Minstens 12 burgerlikes en twee soldate is noodlottig gewond. Sommige bronne meld 14 burgerlikes het gesterf, maar die presiese dodetal kon nog nie bevestig word nie.

AFP skryf die twee aanvallers het balaklawas gedra en op buitelanders, baie van Europa, begin skiet. Onder die slagoffers is vyf mans, vyf vroue en een kind. Een ooggetuie vertel hulle het “na almal geskiet” en van “hotel na hotel” gegaan. Dis onduidelik presies wat daartoe gelei het dat die aanval gestop het, maar Ivoorkus se nasionale polisie en die Franse weermag het ingegryp. Al-Kaïda het intussen verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar.

In ’n aparte aanval het ’n motorbom in die Turkse hoofstad Ankara ontplof en minstens 34 gedood. Meer as 100 ander is beseer toe die bom Sondagaand omstreeks kwart voor sewe plaaslike tyd in die middestad ontplof.

“Die ontploffing is deur ’n geparkeerde voertuig vol plofstof veroorsaak wat naby Kizilay-plein geparkeer was,” het ’n amptelike verklaring gesê.

Reuters berig ook dat geweerskote kort na die bomontploffing gehoor is, maar dit kon nog nie bevestig word nie.

Die nuutste bomaanval in die Turkse hoofstad volg skaars drie weke ná ’n motorbomontploffing hier tot die dood van 28 mense gelei het.

Koerdiese millitante het verantwoordelikheid aanvaar.

Bronne: BBC; Metro; CNN

Lees ook op Huisgenoot.com:

Vrou praat oor jarelange gewigstryd en hoe sy eindelik 40 kg verloor het – ‘ek sou net eet en eet en eet’

Só vermy jy kaartmisdadigers se skelmstreke

Rokers let op! Hier is waarom jy vandag nog jou laaste dampie moet slaan

Wayde van Niekerk hardloop blitsvinnig die geskiedenisboeke in

Pragfoto’s: Kyk hoe skitter SA se eie Candice Abrahams as Mev. Wêreld!