“Toe ek hom deur die asblikke buite ’n vis-en-skyfieswinkel sien grawe naby my boekwinkel, sou ek vir geen oomblik gedink het hier is waar dit eendag sal eindig nie,” vertel Joan Neininger.

Sy sê ook toe sy hom in 1975 vir die eerste keer in die asblikke sien grawe, het dit stilweg haar hart gebreek.

Joan het begin deur eers glo vir hom toebroodjies in die asblikke te los. Dit het verander in toebroodjies en tee. Vandaar het ’n hegte vriendskap tussen haar en die hawelose Ken Selwey gevolg.

Op Saterdag, 18 Januarie, wat ook Joan se 88ste verjaardag is, gaan sy en Ken (89) mekaar trou beloof voor die registrateur van Cinderfort in die Forest of Dean.

Ken moes as jong man tydens die Tweede Wêreldoorlog in die steenkoolmyne gaan werk. Met die afsterwe van die man wat hy as sy pa beskou het, het Ken teruggekeer huistoe. Maar sy ma kon nie sy gemoedstoornis hanteer nie. Ken is met skisofrenie gediagnoseer.

Sy enigste uitweg was om spoorwegstasies en winkeldeure sy nuwe “tuiste” te maak. In daardie stadium het sy besittings die volgende ingesluit: ’n radio, ’n fossiel wat hy tydens sy steenkoolmyndae uitgegrawe het en ’n spaar stel skoon klere. Dié karige besittings het hy glo agter ’n los baksteen in ’n muur weggesteek.

Dit was glo juis sy netheid wat veroorsaak het dat Joan hom opgemerk het. Sy sê dat hy, ongeag sy omstandighede, altyd netjies gelyk het en sy langbroek se plooi was altyd ordentlik gestryk.

“Ek het onmiddellik besef Ken was ’n lieflike mens met ’n pragtige siel.”

Ken wou van meet af aan nooit geld aanvaar nie, maar het eindelik bes gegee en sporadies by Joan en Norman aangesit vir ete. ’n Hegte vriendskap het tussen die drietal gevorm. Vir Ken was die ontmoeting met Joan en haar daaropvolgende belangstelling en ondersteuning ’n reddingsboei. “Toe ek vir Joan ontmoet het, wou ek myself uit die weg ruim,” vertel hy oor sy hawelose dae. “As dit nie vir haar en daardie toebroodjies in die asblik was nie, sou ek nie vandag hier gewees het nie.”

Joan het vasgebyt ten spyte van Ken se skisofrenie. In 1983, die jaar waarin Norman (haar eerste man), oorlede is, publiseer sy ’n boek Portrait of Ken waarin sy skryf dat hy van sy kroniese skisofrenie herstel het. Dié boek sou ook volgens haar in ’n fliek omskep word.

Die twee woon die afgelope tyd saam in ’n tehuis in Gloucestershire. Maar dit beteken nie dat die twee meer as net dieselfde adres tot dusver gedeel het nie. Joan sê tot dusver was hul verhouding selibaat.

Maar Ken stem nie saam nie. Hy beweer die paartjie het darem al een keer vantevore ’n soentjie gedeel.

Maar hoe is daar op trou besluit? Joan het besluit om die skrikkeljaar-gebruik vanjaar in werking te stel.

Sy’t vir Ken gevra: “As ek jou vra om met my te trou, sal jy? En hy’t gelag. Hy’t gedink dis so snaaks. En toe knik hy sy kop. Dit was soos Laurel en Hardy.

“Dit was nie romanties nie,” vertel die bruid.

Bronne: theguardian.com, joanneininger.co.uk, itv.com