Hy's ’n klein mannetjie, maar hy werp ’n reus van ’n skaduwee oor die internasionale kriekettoneel. Laat ’n speler net ’n bietjie bont boul, dan straf hy hom genadeloos.

Ons sien dit nou self hier in Suid-Afrika: Dié Indiese meester is die grootste kolwer van ons era, indien nie van alle tye nie.

Vir die Proteas was dit in die afgelope weke reeds pynlik duidelik: Sy probleme met ’n tennis-arm en ’n skouerbesering is klaarblyklik iets van die verlede. Sachin Tendulkar is weer vlym­skerp en hy is hier om die harte van Suid-Afrikaanse boulers te breek terwyl hulle sake met Indië uitspook om die topplek in internasionale toetskrieket.

Die eerste toets in Desember by SuperSport-park, Centurion, was ’n wedstryd propvol prestasies.

Jacques Kallis het eindelik ’n dubbelhonderdtal in toetskrieket aangeteken en was toe die speler van die wedstryd; AB de Villiers het nog ’n Suid-Afrikaanse rekord opgestel deur die vinnigste toetshonderdtal aan te teken en Rahul Dravid het maar die derde speler geword wat 12 000 toets­lopies kon aanteken.

Maar die grootste lof kom die man toe wat op 37 jaar die rekord vir die heel meeste lopies nog in toetskrieket agter sy naam hou – Sachin Tendulkar.

Selfs toe die Indiërs met die rug teen die muur was, het die meester in beheer gebly toe die Suid-Afrikaners alles uitgehaal het om hom uit te kry.

Hulle het die wegkant met veldwerkers gelaai en hom met wipballe bestook, maar hy het op alles ’n antwoord gehad.

Dit was met ’n enkellopie van ’n bal van Dale Steyn – heel gepas die beste bouler ter wêreld – dat hy vir ’n ongelooflike 50ste keer ’n honderdtal behaal het.

Sy spanmaats en die toeskouers het opgestaan om hom toe te juig, maar Sachin was so nederig soos altyd. Hy het sy helm afgehaal, sy oë hemelwaarts gerig en ’n paar woorde met sy kaptein gewissel.

Toe was dit weer skouer aan die wiel: Hy het al baie honderdtalle aangeteken, maar nou was daar ’n toetswedstryd om te red.

‘‘Daar sal altyd rekords wees en mense wat daardie rekords wil verbeter,’’ het hy later gesê. “Daarom dwing ek nooit teikens aan myself op nie. Dis vir my belangriker om lopies vir die land aan te teken en te wen. ’

Lees meer oor hierdie merkwaardige krieketspeler in Huisgenoot, 13 Januarie 2011.