Raak jy koud by die gedagte van jou kleintjie by ’n laerskool toegelaat kry? Daar is volop gruwelstories oor vol skole en ellelange waglyste. Die ma van twee Lindsay de Freitas vertel oor die stryd om haar dogter by ’n skool toegelaat te kry.

Die stryd om my dogtertjie toelating by ’n goeie skool te kry, het sowat twee jaar – en al my energie – geverg. Ek het by ses skole aansoek gedoen om my dogter in 2013 in gr. R te kry en op een na het die skole my op die waglys geplaas omdat ek nie “in die regte opvangsgebied” woon nie. Die een skool wat ons wel oorweeg het, het ons toe ook op die waglys geplaas omdat hulle kwansuis nie ons adres op Google Maps kon opspoor nie.

Hulle het dit gedoen sonder om eers te bel om ons adres te bevestig. Ek was toe sonder alternatief en het my dogter by ’n kleuterskool ingeskryf vir gr. R. Hier is was ek van die ervaring geleer het.

Nie alle staatskole is op gelyke voet in Suid-Afrika nie

Baie ouers beskou voormalige model C-skole as die beste keuse. Hierdie skole word dus elke jaar deur aansoeke oorval. Die verwarring rondom die regering se formalisering van gr. R dra net by tot die chaos.

Die formalisering van gr. R is in 2007 van stapel gestuur om kinders beter vir gr. 1 voor te berei omdat gr. R vantevore nie verpligtend was nie. Agt jaar later kan die regering egter steeds nie die groot getalle kinders ten volle hanteer wat plasing nodig het nie.

Die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, Cameron Dugmore, het in 2007 gesê: “Baie van ons skole is nie toegerus om gr. R aan te bied nie. Maar die plan is om bykomende klaskamers by openbare skole te bou.”

Raak die papierwerk baas

Na my mening moet papierwerk behels dat jy een aansoekvorm na die Wes-Kaapse Onderwysdepartement stuur, en dan word dit aangestuur na die skole van jou keuse. Ongelukkig kan skole so ver gaan as om ’n lok van jou kind se hare aan te vra . . . Nie regtig nie, maar dis hoe streng dit gevoel het.

Van die dokumente wat die skole aanvra, is ’n salarisstrokie (wat het dit met hulle te doen?) en ’n volledige geboortesertifikaat. Dit is ’n weergawe van die standaardgeboortesertifikaat wat jy by jou plaaslike binnelandse sake kan koop, maar dit neem twee of drie maande om verwerk te word (en ek het geen benul hiervan gehad op daardie tydstip nie.)

Die beste opsie is dus om die skool vroeg te bel en te vra watter dokumente jou aansoek moet vergesel, en dan seker te maak jy het alles.

Spring vroeg weg

Volgens die webtuiste services.gov.za moet jy jou kind tussen 1 Augustus en 31 September van die voorafgaande jaar inskryf. In werklikheid was die meeste skole wat ek het gebel het se aansoeke teen Mei al gesluit. Een skool het my trouens aangeraai om in 2011 al my kleintjie se aansoek vir gr. 1 (2014) in te dien.

Teen die tyd dat 2013 aanbreek, was al die inligting op die aansoek oud en moes ek alles weer indien. Praat nou van jou doodsukkel!

As jy ’n kleuter van twee of drie het, moet jy beslis nou al dink aan laerskooltoelating.

Volg op

Volg op tot jy rooi in die gesig is. Volg op tot hulle moedeloos raak wanneer hulle hoor dis jy. Om die aansoeke in te dien en dan ’n paar maande ’n opvolg-oproep te maak gaan nie hond haaraf maak nie.

- Lindsay de Freitas

Ekstra bronne: www.services.gov.za, www.iol.co.za