Caleb se verhaal

“Ure nadat ek en Caleb ná sy geboorte uit die hospitaal ontslaan is, is ons weer in die hoësorgeenheid by die Rooi Kruis-kinderhospitaal opgeneem,” vertel Celestia. “Hy is vir apnee en renale tubulêre nekrose behandel. Hy het nie soos ander pasgeborenes melk gedrink of urine uitgeskei nie. Ons was drie weke daar en die dokters was verbaas dat hy nog lewe.”

Vandag bestaan Celestia en Caleb se lewe uit ’n reeks terapie wat Caleb in staat stel om normaal te funksioneer. Dit sluit in arbeids- en spraakterapie, en gereelde besoeke aan ’n neuroloog. Celestia se ma help met haar vol rooster. “My ma lees baie op en stel gereeld nuwe hulmiddels voor – dis toe dat sy ’n boek ontdek oor vroue wat ’n moeilike kraam gehad het. Hulle stel kraniale osteopatie voor om kinders van ’n moeilike geboorte te help herstel.”

Caleb het tydens die afgelope ses weke reeds vier behandelings deur die Kaapstadse osteopaat dr. Guy Ashburner ontvang. So onthou Celestia hul eerste afspraak: “Ons het geen idee gehad wat om te verwag nie! Hy het baie vrae gevra oor Caleb se geboorte, sy mylpale en ontwikkeling. Toe het hy Caleb se kop, nek, rug en arms stadig begin masseer. Dit het soos gewone masseerterapie gelyk, maar iets het met Caleb gebeur. Ná die sessie was hy baie ontspanne.

“Ek en my ma kon onmiddellik ’n verbetering sien.” Sy sê dieselfde aand tydens aandete het Caleb gevra dat almal om die beurt praat sodat hy met toe oë kon raai wie dit is wat praat. “Hy het gesê hy wou dit probeer omdat hy nie die gewone gesing in sy ore gehoor het nie. Hy het ook sy linkerhand en -voet begin gebruik; hy het voorheen daarmee gesukkel omdat hy lae spiertonus daarin het.”

Celestia sê dr. Ashburner het Caleb ook ’n paar oefeninge gegee om tuis te doen wat sy balans en koördinasie sou verbeter. “Die veranderinge wat ons toe gesien het, is klein vergeleke met hoe hy nou verander het. Hy val nie meer oor sy eie voete wanneer hy met ’n bal speel nie, hy ry fiets en geniet dit om ’n seun te wees. Hy het ’n glinstering in sy oë wat nie voorheen daar was nie.”

Sy voeg by dat hy ook meet met familie omgaan, aan gesprekke deelneem en meer in aanvoeling is met sy emosies. “Hy maak oogkontak wanneer hy met jou praat, wat hy nooit voorheen gedoen het nie. Hy is meer bewus van wat om hom en met hom gebeur.”

Wat is osteopatie?

Dr. Ashburner verduidelik dat al word osteopatie as alternatiewe terapie beskou, moet alle osteopate ’n vier of vyf jare lange graad voltooi voor hulle kan praktiseer. “Osteopate het ’n soliede agtergrond in anatomie, fisiologie, neurologie, ortopedie, patologie, diagnose, biomeganika, kliniese vaardighede en pediatrie, wat hulle toerus met noodsaaklike diagnostiese vaardighede en hul behandeling met ’n deeglike mediese basis toerus,” sê hy.

Osteopatie is ’n praktiese terapie wat fokus op die muskuloskeletale stelsel en behels nie chirurgie of medikasie nie. Dit kan massering en oefening behels, en omdat die benadering holsisties is, kan ’n osteopaat raad gee oor postuur, dieet, leefstyl en stres.

“Dit mik om die normale struktuur van die muskuloskeletale stelsel, die basiese struktuur van die liggaam, te herstel. Dit verbeter op sy beurt die werking van senuwees, bloedsomloop en immuunstelsel, wat die liggaam vinniger help herstel,” sê dr. Ashburner.

Hy verduidelik ’n belangrike aspek van die terapie is dat dit nie net na simptome kyk nie,  maar na ’n onderliggende oorsaak van ’n problematiese toestand. “Osteopate glo die simptome verbloem dikwels die onderliggende oorsaak van die siekte, en net die behandeling van die oorsaak kan genesing bring.”

Hoekom het dit so goed vir Caleb gewerk?

“Sy behandeling het subtiele osteopatiese tegnieke behels wat die normale beweeglikheid van sy nek, kop en ruggraat aangemoedig het. Gevolglik het dit ook die verwante senuwee-, limf- en bloedsomloopstelsel gehelp,” sê dr. Ashburner.

Hy sê die verandering waar Caleb eers omtrent niks gepraat het nie en nou graag praat en oogkontak maak, is dalk ’n gevolg van die behandeling van die aansluiting tussen sy skedel en nek waar die senuwees lê wat deur die tong gebruik word. “Dit gaan oor die behandeling van die basiese struktuur waar die probleem lê.”

Wie kan voordeel trek uit osteopatie?

Osteopatie is soortgelyk aan fisioterapie en chiropraktiese behandeling, maar het ’n meer holistiese aanslag.

“Osteopate, chiropraktisyns en fisioterapeute behandel dieselfde toestande met verskillende benaderings. As jy vermoed jy moet ’n chiropraktisyn of fisioterapeut sien, kan ’n osteopaat jou moontlik ook help,” sê hy.

Hy voeg by dat osteopatie ook die volgende kan behandel:

  • nek- en gewrigspyn;
  • gewrigstyfheid;
  • hoofpyn en migraine;
  • artritiese knie- heup- en enkelpyn;
  • krampe of spierspasma;
  • geknypte senuwees; en
  • neuralgie en bursitis.

Hy voeg by dat selfs babas met chroniese oorinfeksies, koliek en borsinfeksies, sowel as vroue met pyn tydens swangerskap voordeel hieruit kan trek.

Dit kan ook met ander soorte terapie gekombineer word, soos chirurgie, medikasie of x-strale, sê dr. Ashburner. “Onmiddellike pynverligting is ’n belangrike oorweging, maar die doel van osteopatie is om pasiënte gesond te kry en te hou.

- Dalena Theron