Die dag toe Ischke Barnard se driejarige seuntjie, Connor, amper in ’n hondeaanval gesterf het, het sy nie vir ’n oomblik kon raai hy verkeer in gevaar nie. Hulle was by ’n vriendin se huis en terwyl Ischke haar ses weke oue baba, Blaine, in die sitkamer gevoer het, het haar vriendin Connor na die agterplaas gebring.

Hulle was nie lank weg voor Ischke (28) Connor se bloedstollende gille gehoor het nie. Sy het die baba in die sitkamer gelos en buitentoe gehardloop waar haar vriendin se vierjarige boerboelreun besig was om haar seun uitmekaar te skeur.

“Ek het die hond geslaan en geskop en hom van Connor probeer afkry,” vertel Ischke oor die afgryslike aanval. Sy het ook haar hande gebruik om die hond se kake te probeer oopdwing.

“Ek sou liewer dat hy my hand afbyt as dat hy Connor verder seermaak. Ek het omtrent drie minute gesukkel om die hond van hom af te kry. Daar was so baie bloed. Ek was heel verward en het met hom badkamer toe gehardloop, maar toe onthou ek, my baba is nog in die huis. Toe hardloop ek om hom te gaan kry.”

Sy het met Connor nog in haar arms na dit sitkamer gehardloop. Sy het gesien die boerboel het die huis binnegekom, en was so bang dat hy Blaine of weer vir Connor sou aanval dat sy die hond geskop het. Gelukkig het hy toe buitentoe gehardloop.

Bure, wat die gille gehoor het, het Ischke kom help en haar en die kinders hospitaal toe gebring. Connor het ernstige beserings opgedoen: Sy regteroor was amper heeltemal afgeskeur en ’n stuk van sy linkeroor was weg. Sy linkerwang, die vel rondom sy oë en sy slaap was oopgebyt. Sy neusburg was ineengeduik, sy vinger was op twee plekke gebreek en sy geslagsdele was gekneus.

Hy was vyf uur lank in die operasiekamer en het intussen meermale rekonstruktiewe chirurgie ondergaan. Hoewel Connor herstel van sy ligaamlike wonde ná die aanval in Desember verlede jaar, sê Ischke die sielkundige skade spook nog by hom.

“Hy was heeltemal van die doeke af, maar maak nou die bed nat. Hy het skeidingsangs en wil nêrens alleen gaan nie. Hy weier om na ’n huis te gaan waar daar ’n hond is. Hy is ook bang vir mense omdat hy glo hy kan niemand vertrou nie.”

Connor kry nou speelterapie om hom die trauma te help verwerk. “Ons het hom as ’n Christen grootgemaak en hy het eendag vir my gevra hoekom Jesus hom nie gehelp het toe hy aangeval is nie,” sê Ischke. “Dit was ’n groot skok om my jong kind so iets te hoor sê.”

Van al die ouderdomsgroepe, is kinders die kwesbaarste vir honde-aanvalle, en net omdat ’n kind ’n hond ken, beteken nie sy is veilig nie. In ’n ondersoek in 2007 is data van die pediatriese saal van die Rooi Kruis-kinderhospitaal ondersoek. Daar is bevind kinders tussen vier en sewe jaar is die mees waarskynlike slagoffers van hondebyte.

Daar is ook bevind hondeaanvalle gebeur dikwels tuis of by vriende en familie se huis. “Ons bevindings strook met vorige bevindings dat hondebyte meer dikwels in die kind se ouerhuis of vriende of familielede se huis gebeur, wat beteken dis die gesin se troeteldier of een wat die kind ken,” lui die verslag.

Leer jou kinders die volgende:

  • ’n Kind moet van kleins af geleer word om honde uit te los. “Ek laat net kinders toe om aan ’n hond te vat of hulle liggies te streel met volwasse toesig,” sê Kathy Clayton van KC Dog School in Johannesburg. “Kinders moet leer om nie ’n hond te slaan of enige deel van die hond te trek nie, en veral om nie aan die gesig te peuter nie. Hulle moet nooit ’n hond aan die gesig gryp, sy ore trek of hom probeer soen nie. Baie honde verpes dit. Hulle hou nie daarvan dat hul persoonlike ruimte binnegedring word nie.”
  • Wanneer ’n kind ’n vreemde hond ontmoet, moet sy altyd die eienaar se toestemming vra voor sy die hond streel. “Kinders moet geleer word om nie na ’n hond te hardloop en hom ’n drukkie te gee nie. Dis baie gevaarlik,” sê Kathy.

As jy ’n hond het:

  • Laat hy sosialiseringsklasse vir babahondjies bywoon en sorg ook hy kry verdere formele opleiding. “Te veel mense glo ’n sosialiseringsklas is al wat ’n hondjie kort. Dis soos om ’n kind net na ’n kleuterskool te stuur, en nie ook die groot skool nie,” sê Kathy.
  • Moet nooit ’n kind alleen by ’n hond laat nie. “’n Ongeluk gebeur so gou. Die kind trek dalk die hond se hare of stert of enige liggaamsdeel. Kinders kan ook op die hond val en die hond laat skrik, veral terwyl hy lê en slaap,” sê Kathy.
  • Maak jou hond van kleins gewoond aan kinders se geselskap. Beloon jou hond wanneer hy kalm bly in ’n kind se teenwoordigheid, sê sy.

Maak os wanneer ’n hond jou kind byt

  • Wanneer ’n rondloper- of siek hond jou kind byt of een wat vreemd optree of sonder dat hy uitgelok is, kan daar ’n risiko wees vir hondsdolheid, volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes. Jou dokter moet jou kans om dit op te doen vasstel en, indien nodig, moet jy ’n kursus hondsdolheid-inentings en, in sommige gevalle, immunoglobulien teen hondsdolheid kry.
  • Hondebyte kan aansteeklik raak, klem-in-die-kaak oordra en in seldsame gevalle lei tot hondsdolheid. Gaan onmiddellik dokter toe as die vel oopgebyt is sodat die wond ontsmet kan word. Die dokter moet seker maak jy kry ’n klem-in-die-kaak-inspuiting en kan dalk antibiotika voorskryf.

Watter honde is die veiligste vir die gesin?

Klik hier vir raad oor hoe om die beste hond vir jou gesin te kies.

-Petro-Anne Vlok

EKSTRA BRONNE: nicd.ac.za, webmd.com, www.sabinet.co.za