Die boodskap op die plakkaat is eenvoudig: “Ek sal môre elfuur weer kom. Wag, asseblief. Ek sal môre weer kom.”

Dié woorde wat die negejarige Tosjihito Aisawa met bont koki-penne op ’n stuk karton geskryf het, het miljoene mense wêreldwyd aan die hart gegryp. Dit is ’n boodskap van hoop in die aangesig van algehele vernietiging – maar ook ’n amper hopelose vasbeslotenheid om verlore geliefdes op te spoor.

Op die plakkaat het Tosjihito ook sy ouers en sy ouma se naam geskryf. Hulle is geskei toe Japan se verwoestende tsoenami toegeslaan het. Die kans is maar skraal dat hy hulle gaan vind; tog stap hy steeds hoopvol van skuiling tot skuiling in Isjinomaki.

Die seun se gelate vasberadenheid is inspirerend en tegelykertyd hartroerend, sê Mitsoenari Kitahara, ’n vriend van die gesin wat na Tosjihito omsien sedert die dodelike golwe oor Japan se noordelike kus gebreek het.

“Ek is seker dit is vir hom moeilik, maar ek het hom nog nie een keer sien huil nie.”

Tosjihito se verhaal is maar een van vele wat uit Japan kom terwyl die land weer uit die puin probeer opstaan ná die aardbewing en tsoenami wat amper 10 000 lewens gekos het.

Daar is verhale van vreugde, nog meer van wanhoop: van ’n 80-jarige vrou en haar tienerjarige kleinseun wat nege dae ná die aardbewing lewend onder hope puin gevind word; van 30 jong skoolkinders wat steeds geduldig wag dat hul ouers hulle by die skool moet kom haal, maar dis al dae nadat die tsoenami die land getref het; van ’n bejaarde man wat aan ’n album van sy kleinkinders vasklou – hy’t gehardloop om dit te red toe die swart brander amper die hele dorpie uitgewis het; van mense wat uit vullisblikke eet om te oorleef; van honde wat mekaar beskerm, en van gebroke diereliefhebbers wat oor hul troeteldiere treur.

Klein Kentaro Mioera bars in trane uit toe hy vertel van sy hond, Koero, wat verdrink het. “Dit was my negende verjaardag,” sê hy. “Dit was die aakligste verjaardag van my lewe.”

Maar uit die chaos het tog ’n inspirerende verhaal gekom: ’n storie oor ’n hond wat geweier het om sy beseerde hondemaat te los. In ’n roerende greep (kiek die ikoon in die Huisgenoot met jou foon) bly die hond naby sy vriend en probeer hy hom ophelp.

Die twee is later gered en na ’n diereskuiling geneem. Maar hul eienaars sal waarskynlik nie opgespoor word nie, sê die skuiling se mense.

Lees meer in die Huisgenoot, 31 Maart 2011.