Die vliegkaartjie is gekoop, die tasse  gepak en jou kind is reg om vir die vakansie by jou eks te gaan kuier.

Maar eensklaps weier jou kleinding volstrek om te gaan, of  kommer oorweldig jou skielike oor of die besoek ’n goeie idee is.

Die gesinslewe ná ‘n egskeiding is moeilik genoeg, en besoeke in vakansies kan die situasie nog meer uitdagend maak.

Ons het by kenners raad gevra oor hoe om kuiers by die ander ouer vir jou kind aangenaam te help maak en  self gemoedsrus daaroor te kry.

Hoe gemaak as my eks ’n nuwe maat het?

-       Vertel jou kind as daar iemand nuuts in jou eks se lewe is, sodat hulle voorbereid is daarop, sê dr. Sherona Rawat, ’n kliniese sielkundige van Durban.

-       As dit moontlik is, laat jou kind die nuwe maat  voor die besoek ontmoet, stel dr. Arina Lanser, ’n opvoedkundige sielkundige van Roodepoort, voor.

-       Moenie sleg praat van  jou eks, sy nuwe maat of dié se kinders nie. Gee jou kind ‘n geleentheid om self ’n mening oor hulle te vorm, sê Arina.

-       Probeer met jou eks reël dat dié ook alleen tyd saam met jul kind deurbring, sonder die nuwe gesinslede, sê Hameeda Bassa-Suleman, ’n Durbanse kliniese sielkundige.

-       Sorg dat jou kind nie die situasie uitbuit en as verskoning gebruik vir ongehoorsaamheid nie. Kom met jou eks ooreen dat hyself, en nie sy nuwe maat nie, jou kind sal dissiplineer as dié stout is, sê Hameeda.

-       Moenie toelaat dat jou eie emosies ‘n uitwerking op jou kind se besoek het nie, sê Arina. As jou kind van jou eks se nuwe maat en dié se kinders hou, behoort jy bly te wees en nie jou kind daaroor skuldig daaroor laat voel nie.

-       Moet nie jou kind as spioen gebruik nie, voeg Arina by. Moenie uitvra oor jou eks se verhouding met sy nuwe maat nie, en moenie inligting oor hul huishouding probeer uitvis nie.

Wat van die stief- of halfbroers en susters?

-       Verduidelik aan jou kind dat stiefbroers en -susters of kinders wat uit jou eks se nuwe verhouding gebore is, nie hul plek ingeneem het nie, en dat hul pa steeds lief is vir hulle, sê Hameeda.

-       Moenie jou kind probeer dwing om maats te maak met hul stiefbroers- en susters nie, sê Yolan Moodley, ’n berader van Johannesburg. Dit moet spontaan gebeur.

-       Jy kan wel belangstellings aanmoedig wat jou kinders met hul stief- of halfsibbe deel, sê Arina.

Sê nou my kind nie wil gaan kuier nie?

-       Vra jou kind wat die rede is, sê Sherona, en bespreek sy besluit met hom of haar.

-       Probeer veral uitvind of die nuwe maat of hul kinders jou kind op enige manier ongemaklik laat voel, sê Yolan, want dit kan seksuele molestering voorkom.

-       Respekteer jou kind se besluit, en moenie hom of haar dwing nie, sê Sherona.

-       Kyk wel of jy ’n middeweg kan vind soos dat jou kinders vir korter  tyd gaan kuier of eers tyd by jou huis saam met hul pa deurbring, stel Yolan voor.

Hoe maak ek die besoek makliker vir my kind?

-       Reël dit lank voor die tyd, sodat dit nie ’n verrassing is nie, sê Yolan. Hou jou kinders op hoogte van die beplanning, en vertel hulle vroegtydig as jou eks se nuwe maat ook daar gaan wees.

-       Lig jou eks in as jou kind ’n spesiale roetine het, veral wat medikasie, slaaptyd en eetgewoontes betref, sê Yolan.

-       Laat hulle persoonlike besittings soos hul gunsteling speelgoed, klere en ander bekende items saamneem, stel Arina voor.

-       Moenie die besoek verleng nie, maar hou by die lengte waarop julle ooreengekom het. Moet ook nie laat wees as jy jou kind gaan haal nie, voeg sy by.

-       Laat weet jou eks wat jou kinders se eetgewoontes is, sodat dié bekende kosse vir hulle reghou. Reël dat daar plek is vir jou kinders om hul klere uit te pak. Hulle behoort nie soos ’n vreemdeling by die ander ouer te voel nie, sê Hameeda.

-       Sorg dat jou kinders genoeg lugtyd op hul selfoon het en jou kan bel -- of dit net is om te gesels of  om vir jou te sê as hulle ongelukkig is, sê Yolan.

- Mieke Vlok