Met ’n glimlag wat strek van oos na wes het die Kokkedoor-onthoukok Aletta Coetzee (30) aangekondig sy is weer swanger – en dit nadat sy drie weke gelede nog in die hospitaal was weens breinvliesontsteking en sy haar tweede babadogter, Melissa, verlede jaar weens ’n onderontwikkelde hartklep aan die dood afgestaan het.

“Ek het gister uitgevind. Dis sulke goeie nuus, ’n mens kan nie stilbly nie,” vertel sy borrelend op Worcester buite Kaapstad.

“Ek is nou heeltemal gesond, maar absoluut buite myself!”

Toe ’n sist op 19 op een van haar eierstokke ontwikkel en dokters dit noodgedwonge moes verwyder, is sy ingelig sy sal waarskynlik nooit swanger raak nie. Nou, met haar tweejarige dogter, Liza-Marie, op haar skoot, kan dié swanger mamma nie uitgepraat raak oor haar en haar man, Leon (30), se nuweling nie.

“Sondag het Liza-Marie vir haar oom gesê haar bababoetie of -sussie is op pad – en toe gebeur dit!” vertel sy oorbluf.

“Dis asof sy geweet het. Ek het dit glad nie vermoed nie. Ek is glad nie naar nie. Wat ek wel opgelet het, is dat ek ’n bietjie gewig aansit,” skerts sy.

Aletta het onlangs openhartig met Huisgenoot gesels oor Melissa se dood en hoe depressief sy was tot sy vir die kykNET-kookprogram ingeskryf het.

“Kokkedoor het my weer laat besef dat alles great is. Toe ek van Prins Albert (waar die reeks verfilm is) terugkom, kon Leon die verskil sien – daar was net ’n skaterlag en ’n gesels in die huis. Kook het my my lewe teruggegee.”

Hoewel sy nog as ’n boekhouer werk en motiveringspraatjies gee, gaan sy spesiale voorsorg tref om seker te maak alles verloop seepglad tydens die swangerskap.

“Ek en my ginekoloog het ’n verskriklike nou band. Ons gaan definitief die nodige toetse doen en voorsorg tref. Ek vertrou ten volle dat dit ’n wonderwerk is en voel in my hart alles gaan oukei wees.”

Na verwagting gaan die nuwe kleinding aan die begin van volgende jaar sy of haar opwagting maak.

- Christiaan Boonzaier

Lees ook: Kokkedoor se Aletta vertel oor haar hartseer