In ’n ondersoek wat Huisgenoot sowat twee jaar gelede onder tieners van so jonk as 11 geloots het, het daar antwoorde aan die lig gekom wat enige ma vandag nog sal laat wakker lê. Die ondersoek se inligting, en dalk nog meer belangrik, die kennersraad in hierdie artikel, is vandag nog net so belangrik soos toe. Lees gerus meer hier as jy wens jou kleuters kan vir ewig klein bly of jy bekommerd is jou tiener se optrede.

Sy is 13 jaar oud, ’n doodgewone skoolmeisie in ’n voormalige Model C-skool, maar sy het ’n jaar gelede al die grense tussen onskuld en “die mees ervare” in haar kring begin verskuif. Is sy dalk jou dogter?

“Verlede jaar toe ons onnie afwesig was,” vertel sy, “het ek en ses klasmaats agter die skoolsaalgordyn spin the bottle gespeel.” As 12-jarige laerskoolkind is sy toe uitgedaag “om my bra en hy sy broek uit te trek. Ek het. Gelukkig het ek van hom gehou.”

Sy is nou nog ’n maagd, maar sedert daardie skoolsaal-ervaring het sy al twee keer orale seks vir dieselfde seun gegee en sy hande onder haar rok toegelaat.

“Baie van my vriende het nog nooit sulke goed gedoen nie. Toe ek dit die eerste keer doen, het almal gejuig en ek het so gewild geraak. Meer seuns het met my begin praat.”

Sy rook ook soms sedert ’n 13-jarige klasmaat sigarette skool toe gebring het. “Dit lyk cool . . . Ons rook ook partykeer by winkelsentrums.”

Dis belydenisse soos dié wat ouers snags laat wakker lê oor wat in die geheime lewe van die tiener onder hul dak aangaan. En met goeie reg, blyk uit ’n ondersoek na tieners en hul seks-, drank-, rook- en dwelmgewoontes wat Huisgenoot laat uitvoer het.

Onder die kinders uit voormalige Model C-skole in drie groot sentra het ’n derde al seks gehad, die helfte het alkohol gedrink, byna ’n derde het sigarette gerook en 12 persent ook al dagga. Die jongste was maar 11, die oudste 16 . . .

Baie van die ondersoeksyfers sal ouers diep ontstem. Maar tieners se eie woorde oor tydverdrywe waarvan ma en pa sekerlik meestal salig onbewus is, is dalk veral kommerwekkend.

Nog ’n 13-jarige meisie vertel van ’n “sjampanjepartytjie”: “Ek het drie siders gedrink; dit het my vrolik laat voel en ek het heelnag gedans. Die volgende oggend het ek kwaai hoofpyn gehad en heeldag geslaap.”

Sedertdien het sy nie “baie gereeld” gedrink nie. “My ouers sal my doodmaak; ek’s dan net 13.” Sy weet wat orale seks en omgang is en van drie vriende wat al laasgenoemde gehad het . . . ook van 10 wat alcohol drink en drie wat dagga rook.

’n Veertienjarige sê sy het al met twee mense omgang gehad, die eerste keer met ’n 17-jarige. “Ek het ook ’n paar keer orale seks gehad.” Sy het die eerste keer alkoholiese drank gebruik toe sy en vyf vriende ’n bottle wodka tydens ’n skool-wakkerblynag opgedrink het. Sy het weer daarna gedrink, hoewel ongereeld. Die drank kry sy gewoonlik by ouer vriende. Die meisie het sowat 20 vriende wat sigarette rook, 10 wat dagga rook en drie kennisse wat ander dwelms gebruik. G’n wonder sy is bra onverskillig oor riskante gedrag nie: Dit klink of dit byna die norm is.

“Ons moet almal soms eksperimenteer, solank ons weet ons moet eers ons skoolwerk klaarmaak en dan party,” meen sy. “Ek kan nie wag tot ek 18 is om te doen wat ek ook al wil nie.”

’n Vyftienjarige seun sê hy het al ’n paar maal dagga beproef en dit was “oukei”. Die eerste keer, verlede jaar, “het ons ure lank gelag en alles geët wat ons kon kry. Dit was net vir die pret; om te lag en die munchies te kry.

“Ek en my vriende drink ook so twee keer per maand ’n paar biere en ’n brandewyn terwyl ons chill. Al my pelle drink, buiten my Moslem-vriende.”

Dink hy drank is ’n probleem onder kinders wat hy ken? “Ja, dis net te maklik om dit by die winkel te koop.” Hy en sy vriende het hul eerste dagga by ’n “karwag-rasta” gekoop en tieners wat hy ken, koop dit gewoonlik by karwagte.

Hy’t ook al poppers gebruik. Dis ’n ontspanningsdwelm (verskeie soorte alkielnitriet) wat die gebruiker inasem. Hy het op 13 die eerste keer seks gehad, met ’n 14-jarige meisie, en ook al ’n slag orale seks, maar tot dusver net met die een bedmaat. “My vriende het meestal almal een of twee keer seks gehad.”

Intussen vertel ’n 15-jarige doodluiters sy het al met drie ouens seks gehad ?die eerste keer toe sy 14 was met ’n heelwat ouer tiener en een keer sonder ’n kondoom. En sy beoefen orale seks met haar ou.

“Ek was 13 toe ek op ’n partytjie die eerste keer alkohol drink: wodka en sap en tequila. Ek was stukkend en die hele volgende dag siek.

“Die polisie het ons ook eenkeer in ’n park sien drink, ons sambuka afgevat en ons huis toe gebring. My ouers het my vir ’n week gehok. Nou drink ek so een keer per maand so vier drankies op ’n slag.”

Sy rook omtrent ’n pakkie per week, “want almal by die huis rook en my ouma koop vir my sigarette. “Ek het op 12 die eerste keer dagga gerook. Ons het dit by ’n taxi-staanplek gekoop en uit ’n appel gerook en lank gelag. Ek rook dit nie so gereeld nie; net om my sat te lag.

“Verlede jaar het ek tik probeer en twee dae nie geslaap of geëet nie. Dit was cool vir die eerste paar uur, maar dit het my toe siek laat voel. Ek sal dit nooit weer probeer nie.”

Is sy nie bekommerd oor die gevare nie? “Ek het nie ’n probleem daarmee nie. Almal doen dit. Dis natuurlik om dinge te probeer ...”

Geld blyk nie ’n hindernis by riskante gedrag te wees nie. So vertel ’n 15-jarige sy bestee haar weeklikse R1 000-sakgeld aan middagete en sigarette. “Ek en my vriende het almal verlede jaar begin rook.”

Sy drink nie dikwels nie, maar was al dronk op partytjies. “Ek het verlede jaar baie dronk geraak van Apple Sourz by universiteitstudente se huispartytjie. Ons het drinkspeletjies gespeel.” Dit het daarna weer gebeur, en haar ouers weet van niks. “Ek dink nie ek sal gou weer drink nie.”

Sy was al by sokkiejolle en sportbyeenkomste by die skool waar dagga beskikbaar was en van haar klasmaats het dit al gerook, maar sy wou nie. Haar beste vriendin (16) “sê sy’s nie meer ’n maagd nie”.

’n Sestienjarige krieketspeler en sy pelle praat altyd oor wie “die verste met ’n meisie kan gaan”, meestal op partytjies of by die huis wanneer hul ouers weg is. Hy eksperimenteer sedert sy 12de jaar met seks en het verlede jaar “vir die eerste keer seks gehad. Ek was 15 en dit was buite by ’n swembadpartytjie. Daarna het ek nog drie keer seks gehad: twee keer met dieselfde meisie (nou ook 16) en een keer met ’n 15-jarige meisie.”

Hy het al onbeskermde seks oorweeg, maar nog elke keer ’n kondoom gebruik. “Ek weet van vigs en is versigtig.” Ter wille van sy sport vermy hy sigarette en dwelms, “maar verlede Desember het ’n lang vriend, wat ouer lyk as wat hy is, vir ons bier gekoop”. Maar hy vertel hy was maar 13 toe hy en sy vriende “wat ook al ons kon kry, uit ons ouers se drankkabinet begin steel het”.

’n Ander 16-jarige sê sy het al ’n hele paar keer dagga beproef, “meestal Swazi”. (Die gehalte is glo beter as dié van ander soorte.)

Intussen vertel ’n 17-jarige hy drink gewoonlik by sosiale geleenthede saam met sy vriende of ouers. Hy en sy vriende koop self hul drank. “Ons ID’s word nooit gevra nie, want van my vriende is groot gebou en lyk ouer as wat hulle is.”

Nog ’n 17-jarige seun sê: “Ek was verlede jaar op 16 vir die eerste keer dronk. My ouers was saam en het vir my gelag. My ma koop nou my drank vir my en ek aanvaar dat my ouers my drankgebruik reguleer. Ek rook glad nie, want dit sal my sport benadeel. Ek weet van baie mense wat dagga rook, hoewel nie meer by ons skool sedert hulle ons daarvoor begin toets het nie.

“Ek het nog nie seks gehad nie, maar ek glo ek sal seks hê as ek lank genoeg met ’n meisie uitgaan. Maar seks sonder voorbehoeding is mal; dit plaas te veel spanning op die meisie.”

Onstellende tendense

Die tiener-peiling was onder oorwegend Afrikaans- en Engelssprekende tieners tussen 12 en 16 jaar oud. Die marknavorsingkundige Leelyn Management het 205 respondente by voorafgekeurde voormalige Model C-skole in die Wes-Kaap (51 persent), Gauteng (44 persent) en KwaZulu-Natal (5 persent) breedvoerig uitgevra oor seksuele gedrag en middelgebruik. Sowat 27 persent van die respondent was 14 jaar oud; 26 persent was 16; 21 persent was 15; 17 persent was 13 en 9 persent was 12 jaar oud. Sowat 52 persent was meisies en 48 persent seuns.

Die tieners het die vrae deur middle van vraelyste in lewensvaardighedeperiodes beantwoord. Hulle het anoniem gebly en hul terugvoer is deurgaans streng vertroulik hanteer.

Die opname bevestig ons sit hier opgesaal met ’n uiters dringende uitdaging. Die vernaamste bevindings toon onder meer:

Seks

  • ’n Derde van al die respondente het al seksuele omgang gehad;
  • 38 persent het al orale seks gegee;
  • 32 persent het al orale seks gekry;
  • 72 persent weet wat omgang is;
  • 79 persent weet wat orale seks is.

Van die respondente wat al omgang gehad het:

  •  was 65 persent 13-14 jaar oud toe dit die eerste keer gebeur het en 10 persent van hulle 11 of 12;
  • het 42 persent met twee tot drie mense omgang gehad en 15 persent met meer;
  • het 69 persent al onbeskermde seks gehad;
  • het 58 persent die eerste keer ’n kondoom gebruik en 71 persent by hul mees onlangse keer.

Drank

Die helfte van al die respondente het al alkoholiese drank gedrink. Van dié wat al alkohol gebruik het:

  •  was 48 persent 13-14 jaar oud toe hulle dit die eerste keer doen, 16 persent 11-12 en 8 persent 10 of selfs jonger;
  • drink 9 persent weekliks, 18 persent maandeliks, 15 persent ’n paar keer maandeliks en 30 persent minder;
  • drink 43 persent vir die pret, genot en vermaaklikheidswaarde daarvan, 14 persent weens groepsdruk en 13 persent net by partytjies.

Sigarette

Byna ’n derde van al die respondent het al gerook. Van dié wat al gerook het:

  • rook 40 persent daagliks en 30 persent ’n paar keer daagliks;
  • het 65 persent die eerste keer op 13-14 gerook en 19 persent op 11 tot 12;
  • rook 18 persent omdat dit koel is, 15 persent omdat hul vriende dit doen, 15 persent omdat hulle daarvan hou en 11 persent om stres te verlig.

Dagga

Sowat 12 persent van al die respondent het al dagga gerook. Van hulle:

  • rook 58 persent dit minstens een keer maandeliks, 17 persent ’n paar keer maandeliks, 8 persent een keer per week, 8 persent ’n paar keer weekliks en 13 persent verskeie kere daagliks;
  • het 54 persent van hulle dit die eerste keer op 13-14 gerook en 17 persent op 11-12 (dus laerskoolouderdom);
  • doen 34 persent dit, want “dis pret om gerook te wees” en 30 persent om te ontspan.

Ander dwelms

  •  Van al dié bloedjong respondente het 3 persent al tik gebruik.
  • Enkeles het al ecstasy, kokaïen, CAT, hallusinogene sampioene of LSD gebruik, of gom of petrol gesnuif.

Hoe nou gemaak?

Tieners het so gereageer op die vraag hoe ouers en onderwysers hulle die beste kan help teen seks-, drank-, rook- en dwelmrisiko’s:

  •  13-jarige: “Kinders doen deesdae hul eie ding; ouers en onderwysers kan ons net waarsku.”
  • 14-jarige: “Ouers kan niks doen behalwe om ons daaroor in te lig nie. Dit sal altyd steeds uiteindelik ons besluit wees.”
  • 15-jarige: “Onderwysers doen ’n goeie jop deur ons van seks en dwelms te leer . . . dus moet ons net na hulle luister.”

Die Mediese Navorsingsraad stel voor:

  •  Laat die klem in seksopvoeding val op individuele groepe se spesifieke behoeftes,
  • en fokus veral op die gebruik van kondome.
  • Beklemtoon die voordele van sport, oefening en ’n gesonde dieet.
  • Gee voorkeur aan omvattende voorkomingsprogramme teen tabak-, alkohol en dwelmgebruik. Sorg dat beraders leerders kan help met die probleme wat tot onder meer middelmisbruik lei.

Maar is drank regtig so erg?

Sowat 60 persent van alle leerders wat drink, presteer swak op skool weens die breinskade wat alkohol veroorsaak, volgens You Decide, ’n veldtog teen tienerdrankgebruik van SA Brouerye, staatsdepartemente en ander.

Mense wat voor 15 jaar begin drink, is vier keer vatbaarder vir alkoholisme as dié wat op 20 of later begin en 67 persent van sulke jong drinkers sal mettertyd onwettige dwelms gebruik.

Tienerdrinkers se kans om by geweldsmisdaad betrokke te raak, is ook drie keer groter, volgens You Decide.

Maar hoe kan jonges nee sê as hulle hoor: “Komaan, kry ’n dop” of: “Komaan, vat ’n trek” of: “Kom speel saam seksspeletjies . . .”? You Decide se raad teen drankgebruik geld eintlik vir alle versoekings.

Hulle moet onthou dat om bo sulke uitdagings uit te styg, ’n vaardigheid word wat hulle suksesvolle volwassenes sal help wees. “Enige lamsak kan ‘ja’ sê,” sê You Decide. Dis veral moeilik om die eerste keer “nee” te sê, maar as jy daarby hou, raak dit ál makliker.

Hoe kan kinders nee sê en steeds cool wees?

Die “positiewe nee”-benadering help. Dink aan ’n belangrike rede waarom jy nie wil drink nie. Soos: “Ja, ek wil liewer gaan oefen, want ek wil eendag vir Suid-Afrika rugby speel.” Dus: “Nee, ek kan nie saam met jou gaan drink nie. Maar, ja, ek waardeer jou vriendskap en wil nog saam met jou kuier. Ek wil net nie drink (of rook . . . of spin the bottle speel) nie.”

- Richard van Rensburg, Haji Mohamed Dawjee, Chrizane van Zyl

Hierdie artikel het die eerste keer op 29 Maart 2012 in Huisgenoot verskyn.