Stel jou dit net voor: ’n Oop koets ry deur die strate met ’n beeldskone bruid wat op dié dag, net soos in die mooiste sprokies, ’n prinses word. Langs die strate juig duisende van haar landgenote haar en haar prins toe, en mense kom van heinde en ver om saam bruilof te vier.

Ja, 2011 sal onthou word as die jaar van die koninklike troues – eers met Brittanje se prins William en Kate Middleton (albei 28) op 29 April voor die kansel, en dan prins Albert (52) van Monaco en Suid-Afrika se Olimpiese swemmer Charlene Wittstock (32) op 3 Julie.

William en Kate het die Westminster-abdy vir die blye dag gekies, dieselfde katedraal waar die jong prins by prinses Diana se begrafnis in 1997 van sy ma afskeid geneem het.

Toe die langverwagte aankondiging kom, was Engeland in rep en roer, met selfs ’n kabinetsvergadering wat summier onderbreek is vir ’n oproep uit Buckingham-paleis om die blye tyding oor te dra.

En selfs die mees siniese Brit kon hulle darem verlekker in die vooruitsig van ’n ekstra vakansiedag in 2011: die koninklike troudag, nes Charles en Diana s’n ook was.

Intussen laat die Kate-William-manie reeds die geld in Engeland inrol. Koppies, pierings en ander aandenkings vlieg van die rakke af, en ook replikas van Kate se verloofring – oorspronklik mos Diana s’n – is skielik weer hoogs gesog.

Die oorspronklike ring met sy saffier omring deur diamante sou vandag sowat R10 miljoen gekos het, maar goedkoper namaaksels kan nou weer vir enig-iets van R380 tot ’n raps meer as R8 000 gekoop word.

Die blou rok van die ontwerperswinkel Issa wat Kate met die aankondiging van die verlowing gedra het, is ook sterk in aanvraag. Maar as jy nie die ontwerpersnommer van byna R4 000 kan bekostig nie, kan jy by enige Tesco-winkel ’n replika vir sowat R180 aanskaf.

Lees meer oor die twee toekomstige prinsesse en hul prinse in Huisgenoot, 13 Januarie 2011.