Vra enige ma of sy haar 13- jarige dogter teen kanker sal laat inent, en sy sal kwalik huiwer om haar so gou moontlik na die naaste hospitaal te neem. Maar vra jy haar of sy haar 13-jarige dogter teen ’n seksueel oordraagbare siekte (SOS) sal laat inent, is die kans goed dat die antwoord nee sal wees. Wie wil dan nou vir so ’n jong kind ’n groen lig vir seks gee?

Dit is die tameletjie waarmee Suid-Afrikaanse ma’s sit sedert inentings teen die menslike papillomavirus (MPV), die algemeenste oorsaak van servikale kanker, ál meer deur dokters en die staat aangemoedig word.

Die einste ma en haar dogter se kans is baie goed om servikale kanker op te doen, want dis die kanker wat die meeste sterftes onder SA vroue veroorsaak. Sowat een uit 26 sal dit in hul leeftyd ontwikkel, volgens die SA Vereniging vir Verloskundiges en Ginekoloë.

Voor jy hospitaal toe jaag, of sommer van voor af ’n bytjies-en-blommetjies-preek afsteek, lees verder sodat jy ’n ingeligte besluit oor MPV-inenting kan neem.

Wat is MPV?

Dit is ’n virus wat die mens se vel en mukusmembrane byvoorbeeld in jou mond, neus en geslagsdele affekteer. Die virus word oorgedra deur seksuele kontak, kontak met liggaamsvloeistowwe en aanraking met ’n oop seerplek op ’n besmette mens. Dit is die algemeenste SOS ter wêreld. Verskillende soorte MP-virusse bestaan, en hulle word gekategoriseer na gelang van hoe hulle met servikale kanker verbind word. Tipes 16 en 18 word die algemeenste met dié kanker verbind. Terwyl die meeste vroue nooit enige simptome sal ontwikkel nie, kan vratte wel in sommige gevalle ontwikkel. Maar as jy nie een van die gelukkiges is nie, sal die MPV veroorsaak dat die liggaamselle in jou serviks muteer en kankerselle word.

Kan inenting kanker keer?

Omdat die MPV ’n direkte oorsaak van servikale kanker is, kan ’n inenting daarteen jou teen dié kanker beskerm. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beveel aan dat vroue tussen nege en 25 jaar die inenting ontvang. Prof. Hennie Botha, hoof van die Universiteit Stellenbosch se departement ginekologie, verduidelik hoe vroeër meisies ingeënt word, hoe beter. “Dit word aanbeveel dat meisies reeds ingeënt word voor hulle seksueel aktief word. Dit verhoog hul kans op beskerming.” In Suid-Afrika gaan meisies van tussen nege en 12 in die armste gebiede in die land inspuitings ontvang. Data wat by die Internasionale Papillomavirus-konferensie in 2007 bekendgemaak is, wys die inentings is doeltreffend vir vroue tot 45 jaar. Die inenting word deur middel van ’n inspuiting toegedien en moedig jou immuunstelsel se weerstand teen die MPV aan. ’n Reeks van drie inspuitings word oor ’n tydperk van ses maande gegee. “Dit is nog taamlik nuwe tegnologie; dus kan ons nie vir seker sê nie, maar dit behoort vir sowat nege jaar beskerming te bied,” sê Hennie.

Kan ek nee sê?

Al beveel dokters die inenting aan, is dit nie verpligtend om dit te kry of vir jou dogter te laat kry nie. Menseregtegroepe in Amerika het die inentings gekritiseer en beweer dit kan tieners aanmoedig om losbandig te wees, want “hulle is mos nou beskerm”. Party ma’s voel dit is onnodig om ’n 13-jarige teen ’n seksueel oordraagbare siekte in te ent, want hulle glo hul kinders is nie seksueel aktief nie. Maar kenners meen dié opvatting is kortsigtig. “Bespreek die kwessie voor die tyd en lig jou kind in oor waaroor dit gaan,” sê Hennie. Die Johannesburgse kliniese sielkundige Teboho Monyamane spesialiseer in tienerkwessies en meen dit “is moeilik vir ouers om die moontlikheid te oorweeg dat hul tienerkind seksueel aktief kan wees”. Sy meen ouers het dikwels die wanopvatting dat gesprekke oor seks en seksueel oordraagbare siektes hul kinders kan aanmoedig om seksueel aktief te wees.“Ouers wil hul kinders so lank moontlik onskuldig hou. Die idee agter die gesprekke is nie om kinders aan te spoor om seks te hê nie, maar eerder om hulle aan te moedig om die gevare te minimaliseer wat kom saam met seksueel aktief wees.” Teboho sê dit is vir baie ouers moeilik en skokkend om te besef dat talle jong kinders wel deesdae seksueel aktief is. Volgens haar sal die MPV-inenting beswaarlik ’n kind aanmoedig om seksueel aktief te wees. “Ek dink daar is baie ander interpersoonlike en sosiale faktore wat daartoe lei dat ’n tiener seksueel aktief is. Dit is gevaarlik om dié faktore te ignoreer.” Dr. Akashni Maharaj, ’n voorligtingsielkundige van Durban, sê ouers moet hul kinders laat besef dat die inenting net vir MPV geld, en daarom nie ’n groen lig vir seks is nie. “Maak jou kind bewus van ander gevare, soos MIV en ander seksueel oordraagbare siektes.” Akashni sê ook ouers moet die kort- en langtermyngevolge in perspektief sien. “Daar is in enige omstandighede ’n kans dat ’n kind losbandig gaan optree, maar hier is ook die kans dat langtermynvoorkoming van MPV kan plaasvind. Ouers moet dus besef wat op lang termyn in hul kinders se beste belang is.” Die WGO het hul steun vir Suid-Afrika se nuwe inentingsprogram in skole uitgespreek en Hennie beaam dat ’n einde aan MPV-infeksies ’n einde aan servikale kanker kan beteken.

Kan almal dit gebruik?

Twee soorte inentings, Cervarix en Gardasil, is in Suid-Afrika beskikbaar en albei is deur die Suid-Afrikaanse Medisynebeheerraad goedgekeur as veilig en doeltreffend. Daar is geen lewensgevaarlike newe-effekte wat met ’n inenting teen MPV verband hou nie. Die meeste pasiënte ervaar net tydelik effense rooiheid en swelling by die plek waar die inspuiting gegee is. Vroue met ’n geskiedenis van sensitiwiteit teenoor inentings of gis behoort nie Gardasil te gebruik nie, want dit bevat gis. Lig jou dokter in van enige mediese toestande sodat jy kan seker wees jy mag die inentings kry.

En wat van seuns?

Volgens die Suid-Afrikaanse Kankervereniging is Gardasil veilig vir gebruik deur mans tussen 11 en 21 jaar en kan dit hulle teen die MPV beskerm. Mans behoort hul dokter te raadpleeg om te hoor of ’n inenting nodig is. “Die ideaal sal wees om eindelik die hele land se inwoners te immuniseer; dit is die doeltreffendste manier om die kanker te voorkom. Mans wat die inspuitings kry, word beskerm teen kanker wat deur MPV veroorsaak word en beskerm hul seksmaats,” verduidelik Hennie.

Waar kry ek die inenting?

Cervarix en Gardasil is skedule 4-medikasie en kan daarom net deur ’n geregistreerde verpleegster, ginekoloog of algemene praktisyn toegedien word. Jy het ’n voorskrif nodig as jy dit by die apteek wil laat doen.

Betaal my fonds?

Mediese fondse betaal in dié stadium nie vir inenting teen die MPV nie. “Tog hoop ons dat mediese fondse aan boord sal kom. “Die inenting keer nie net servikale kanker nie, maar kan ook die meeste MPV-verwante abnormaliteite voorkom en maak daarom sin,” sê Hennie. David Geral, ’n prokureur by die firma Bowman Gilfillan, wat in gesondheidsorg spesialiseer, sê mediese fondse hoef net medikasie of mediese dienste te dek as dit op die voorgeskrewe lys minimum voordele is wat van die departement van gesondheid af kom. “Die minister van gesondheid sal dit eers op dié lys moet sit voor mediese fondse ’n wetsplig het om vir inentings te betaal.” David meen die inspuitings se toenemende gewildheid kan mededinging tussen mediese fondse aanmoedig en dat party dit dan as deel van hul skemas kan insluit in ’n poging om kliënte te lok.

Twee soorte inentings is beskikbaar in Suid-Afrika:

Gardasil:

Gardasil beskerm gebruikers teen tipes 16 en 18 van die MPV (wat servikale kanker veroorsaak). Dit beskerm ook teen tipes 6 en 11, wat vratte kan veroorsaak. In dié stadium kos Gardasil sowat R770 per inspuiting x 3 inspuitings = R2 310 vir inenting.

Cervarix: Cervarix bied beskerming teen tipes 16 en 18 van die MPV. Sowat R700 per inspuiting x 3 inspuitings = R2 100 vir inenting.

Prof. Hennie Botha, die hoof van die Universiteit Stellenbosch se ginekologie-eenheid, meen pryse behoort vanjaar te daal sodat ’n inenting sowat R500 per inspuiting sal kos.

- Mieke Vlok