[caption id="attachment_168555" align="alignnone" width="600"]Foto: Facebook/Lorna Greyling- Mrs Africa Hemisphere2017 Foto: Facebook/Lorna Greyling- Mrs Africa Hemisphere2017[/caption]

Die huidige Mev. Afrika Hemisfeer tree gereeld as motiveringspreker op en gebruik die slegte ondervinding destyds om ander met empatie te bemoedig en dien.

In Maart 2010 is Lorna se man, Nick, ’n M-Net/SuperSport-klankingenieur, en twee kollegas deur 25 rebelle in Nigerië ontvoer. Ná ’n week lange gyselaarsdrama is hulle vrygelaat.

lorna

Op haar webtuiste skryf Lorna in Engels: “Toe 25 rebelle op Nick afstorm en hom gewelddadig in ’n motor boender, het hy geweet hy gaan dalk nie die einde van die dag sien nie. Met skote wat oral klap en mense wat dood om hom neerval, was die kans op oorlewing skraal.”

Lorna is oor die foon gedreig: “Kies ’n kis. Ons stuur hom in ’n kis na jou toe terug.” En Nick se boodskappe het Lorna se hart weer en weer gebreek. “Help my, asseblief; hulle gaan my skiet!”

Vrees het Lorna verteer. Al waaraan sy kon vashou, was ’n boodskap uit Psalm 91. ’n Vriendin het dit op die oggend van Nick se ontvoering vir haar gestuur: “Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, hy sê vir die Here: ‘U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.’ ”

Deesdae gebruik Lorna en Nick die ervarings wat hulle sterk gemaak het om ander te help wat deur moeilike omstandighede gaan. Lorna het ook ’n boek geskryf oor die ontvoeringsdrama.

lornatwee

Sy het ook onlangs sover bekend die eerste modeparade bo-op ’n berg in Suid-Afrika gehou. Die geleentheid is op Hartbeespoort aangebied. Dit vorm deel van ’n jeugbemagtigingsprogram waardeur sanitêre ware geskenk word aan skoolmeisies wat dit nie kan bekostig nie. Dié projek is deel van Dignity Dreams, Lorna se organisasie sonder winsbejag.

By die gala-geleentheid by die Harties-kabelbaan is Mnr. en Mej. Hartbeespoort uit 10 jong meisies en vier aantreklike jong mans aangewys. “Hierdie gewone skoliere het geen modelondervinding nie, maar by die bemagtigingsprogram het hulle soos professionele modelle gelyk,” sê Lorna.

“Ek is so trots op elkeen van hulle. Hulle het die geleentheid aangegryp, hul vrese oorkom en in hulself geglo,” sê Lorna.

Met die ingesamelde geld kan meer as 130 tienermeisies vir drie jaar van veilige, omgewingsvriendelike sanitêre ware voorsien word.

“Dignity Dreams lê my na aan die hart, en ook om dit te kombineer met my brandende begeerte om vir die jeug ’n platform te skep om hul doel te verstaan, selfliefde te vind en meer selfvertroue te hê.”