Maar intussen word nuwe bewerings gemaak en nog vertonings afgelas midde-in sprake van die val van ’n ikoon.

“Hy beur moedig voort, maar die skade is dalk onomkeerbaar,” het die glansbybel People gister in ’n voorbladstorie gesê oor die 77-jarige, wat lank as Amerika se gunsteling-pa bekend gestaan het.

“Dit is nie asof hy nooit weer sal werk nie. Maar dit het sy toekoms in die vermaakbedryf ernstig geknou,” het Robert Thompson, ’n professor in popkultuur aan die Syracuse-universiteit in New York, aan AFP gesê.

People het opgemerk Bill het ’n siviele eis oorleef wat 13 vroue in 2005 teen hom ingestel het, maar daardie beweerde vermeende slagoffers se bewerings word nou aangevul met nuwe aantygings deur ander vroue.

“Die bewerings hou aan instroom, die een ontstellend soortgelyk aan die ander,” sê die tydskrif onder die opskrif: The Fall of Bill Cosby.

Die bewerings toon ’n patroon. Sedert die eerste klaer, Andrea Constand, in 2004 het dit behels dat die beweerde slagoffer bedwelm is en dan gedwing is om met Bill seks te hê.

Al is hy nie van ’n misdaad aangekla nie, het sowat 20 vroue nou op die rekord gegaan met aantygings van seksuele aanranding wat tot in die 1960’s terugstrek, insluitend toe Bill op die kruin van sy roem was.

Maandag het ’n voormalige manlike ateljeewerker beweer hy het betalings vir agt vroue gereël toe Bill aan die baanbreker-TV-reeks The Cosby Show gewerk het.

Frank Scotti (90), ’n oudgeriewebestuurder by die ateljee in New York waar die program verfilm is, sê hy het van 1984 tot 1992 betalings van tot $2 000 op ’n keer vir die vroue gereël.

“Hy het almal om die bos gelei,” het Frank aan die New York Daily News gesê en bygevoeg Bill het hom sy eie naam op die geldwissels laat plaas. “Niemand het iets vermoed nie . . . Hy het homself beskerm deur my naam daarop te laat sit.”

Bill se prokureur, die bekende Hollywoodse prokureur Marty Singer, het die nuwe bewerings afgemaak.

“Hoe sou Scotti geweet het of ’n vrou ’n model of ’n sekretaresse was? Dit blyk sy storie is suiwer bespiegeling sodat hy sy oomblik in die kollig kan kry,” het hy aan die koerant gesê.

Bill self, wat weke lank geweier het om oor die bewerings kommentaar te lewer, het die naweek sy stilte verbreek.

“Ek weet mense is moeg daarvoor dat ek niks sê, maar ’n ou hoef nie op innuendo’s te reageer nie,” het Bill aan Florida Today gesê.

“Mense moet feite nagaan. Mense behoort dit nie te beleef nie en behoort nie op innuendo’s te reageer nie.”

Bill is Vrydag by ’n vertoning in Florida staande toegejuig, het die plaaslike media berig.

Maar sy volgende vertoning in Las Vegas volgende naweek is afgelas, terwyl daar ook berig word van kansellasies in die deelstate Arizona, New Jersey en Washington.

“Afgelas,” lui ’n rooi banier wat oor Bill se gesig geplak is op die webtuiste van die Capitol Theatre in Yakima, Washington, waar die komediant veronderstel was om op 29 November op te tree.

Verlede week het die Amerikaanse netwerk NBC ’n nuwe Cosby-sitkom gekanselleer, ’n dag nadat die stroomvideodiens Netflix ’n beplande spesiale uitsending afgelas het, en so die druk op die veteraan-komediant laat toeneem.

Die storm om Bill se kop het verlede maand losgebars nadat die komediant Hannibal Buress hom tydens ’n skerpskertsoptrede in Philadelphia ’n “verkragter” genoem het en ’n greep daarvan soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het.

Vrydag het Bill se prokureur gesê die bewerings van misbruik het “toegeneem tot ver verby die punt van absurditeit”. Hy het bygevoeg: “Die verdagmakery van mnr. Cosby in die media moes lankal gestaak gewees het.”

Steve Barrett, hoofredakteur van die skakelwese-vaktydskrif PR Week, het aan AFP gesê Bill maak ’n fout om nie te praat nie.

“Die aanneem van ’n beleid van stilte laat hom skuldig lyk in die oë van openbare mening,” het hy aan AFP gesê.

“Terwyl die eenrigtingkommunikasie voortduur, is dit moeilik om te sien hoe sy reputasie en nalatenskap ongeskonde kan bly.”