Die Oscar Pistorius-moordverhoor kry dalk ’n Hollywood-element by met die Amerikaanse kenners wat hy ontbied het om sy saak te help voorberei.

Huisgenoot berig in die jongste uitgawe die kenners van Evidence Room, onder leiding van Scott Roder, spesialiseer in animasie- en ander grafiese voorstellings van bewysstukke vir hofsake. Hulle was in Suid-Afrika om die toneel self te kom sien waar Oscar op Valentynsdag sy modelmeisie, Reeva Steenkamp, doodgeskiet het. Hier is voorbeelde van hoe Evidence Room se werk lyk: Maar hoe vergelyk dié tegnologie met die tegnologie wat aan die polisie beskikbaar is?

Cobus Steyl, ’n onafhanklike ballistiese kenner, sê ons howe gebruik ál meer visuele hulpmiddels in hofsake. Dit is egter beperk tot projektors in hofsake waar foto’s en polisievideo’s vertoon kan word.

Die polisie het wel vordering getoon met die onlangse aanskaffing van kamera’s wat sferiese beelde kan neem. Dit is kameras wat ’n 360 grade beeld van ’n moordtoneel kan neem sodat die hof ’n virtuele beeld kan sien soortgelyk aan Google Streetview waar ’n gebruiker links, regs, op en af kan klik om te sien wat ’n mens sou sien as jy self daar sou staan.

Dié sferiese beelde word saam met nog bewysstukke soos foto’s geïntegreer in ’n program, SceneCenter Forensics, wat ’n omvattende beeld vir die hof kan skep.

Dit is die eerste keer gebruik in die Griekwastadse moordverhoor wat tans aan die gang is in hooggeregshof in Kimberley. Die spesialisondersoekers het in daardie saak getuig daar is nou twee sulke kamera’s wat toenemend gebruik word.

Cobus sê hy sal verbaas wees as dié program nie ook in Oscar se verhoor aangewend word nie. “Visuele voorstelling van bewysstukke is iets waarna ons al lank streef.”

Hier is ’n demonstrasie van hoe die polisie se beste tegnologie vir bewys-aanbieding lyk:

  • Die moordverhoor begin in Maart in die hooggeregshof in Pretoria.