7de Laan-aanhangers moes die afgelope ruk ’n hele paar van hul mees geliefde akteurs groet – van Diaan Lawrenson, die immergewilde Paula van der Lecq, tot Jo da Silva, wat bekend was as die superfeeks Gita. Maar nou het ons ’n bietjie goeie nuus.

Quinne

Die aktrise Quinne Brown-Huffman, wat meer as ’n dekade terug kykers se harte gesteel het as die kelnerin Connie van der Lecq in dié sepie, is een van die dae weer terug in die Laan!

Quinne, wat in 2004 dié sepie verlaat het en byna 10 jaar in Amerika gebly het, het onlangs weer met haar gesin teruggekeer Suid-Afrika toe en dié nuus is amptelik: Connie kom terug!

Quinne is einde Oktober terug op die kassie as die geliefde, borrelende Connie, die rol wat sy voorheen vyf jaar lank gespeel het.

“Haar eerste episode word 31 Oktober uitgesaai,” bevestig Rosa-Mari Erasmus, publisiteitsbeampte van 7de Laan. “Ek kan nie die storielyn weggee nie, maar wat ek wel kan sê is dat niemand by die Laan weet wat die regte rede is hoekom Connie weer terug in Hillside is nie. Kykers sal later sien hoe die storie ontvou,” sê Rosa-Mari.

“Kykers gaan Connie in die Laan sien, maar gaan nie weet hoekom sy daar is nie, ook nie wat sy wegsteek of wat in haar lewe gebeur het dat sy nou terug in die Laan is nie.” Oe, ons kan nie wag om te sien wat wag op Connie nie!

Dis omtrent ’n groot jaar vir Quinne. Sy keer nie net terug na die Laan nie, sy vier ook vanjaar Kersfees terug op eie bodem met haar Amerikaanse man, Ryan Huffman, ’n watertegnoloog, en hul twee dogters, Charlotte (5) en Lara (2). Die gesin woon deesdae in Johannesburg.

Welkom terug Quinne!

EKSTRA BRON: SARIE.COM