Wil jy graag vir jou kleinding ’n spesiale geskenk gee wat hulle altyd kan gebruik? Brei hierdie sagte kombersie en borduur jou kind se naam en geboortedatum aan die binnekant.

Benodighede

  • Van Elle Pure Gold DK (100 g-bolle) 3 bolle in die kleur van jou keuse.
  • Bykomstighede van jou keuse vir versiering.
  • 4 mm-breipenne.

Grootte

Omtrent 61 x 72 cm. Die aanwysings word net vir een grootte gegee.

Spanning

Bespaar tyd deur die spanning te toets.

22 ste en 30 rye = 10 cm oor ks met 4 mm-breipenne.

Vir die beste resultate is dit noodsaaklik om die regte spanning te kry. As daar te min steke in die toetsmonster is, gebruik dunner breipenne; as daar te veel steke is, gebruik dikker penne.

Afkortings

aw aweregs; her herhaal; ks koussteek; pat patroon; r regs; RKV regte kant voor; st(e) steek (steke); vlg volgende.

Kombers

Stel 134 ste op met 4 mm-penne en r 6 rye. Brei soos volg verder: 1e ry RKV, r. 2e ry r 4, *aw 22, r 4, her van * tot einde. 3e tot 30e ry her 1e en 2e rye 14 keer. 31e tot 36e ry r. Die 1e tot 36ste ry stel die pat vas. Her dié 36 rye nog 5 keer. Heg al die ste af. Speld kombers volgens mate uit, bedek met ’n klam lap en laat droog word. Versier volgens eie keuse.

Wennerwenk

Versier die effekleurige kombersie na hartelus – natuurlik nie met iets soos knope wat kan loskom en ingesluk word nie. Ons het ’n hasie uit vilt geknip en toe met kontrasterende turkoois borduurgare vasgewerk. Ander maklike patrone, as jy nie baie kunstig is nie, is harte en sterre. Jy kan ook in elke blok ’n eenvoudige prentjie soos ’n huis borduur. Pleks van een kleur kan jy ook pastelle of primêre kleure met mekaar afwissel.